Cheetahs kan dit drie op ’n streep maak

0
Cheetahs kan dit drie op ’n streep maak

GEORG VAN ECK

Nou vir drie rugbyseges op ’n streep. Belangriker nog, Adriaan Strauss se Toyota Cheetahs kan van wen ’n gewoonte begin maak as hulle die Force Saterdag in Perth, Australië, klop. Maklik gaan dit nie wees nie, want die Force met sy voormalige Cheetahs-losskakel, Sias Ebersohn op sy stukke het gewis die afgelope naweek ’n roering in Superrugby veroorsaak toe hulle die Reds in Brisbane geklop het.

Die Reds kon selfs met hul Wallaby-skakelpaar, Will Genia en Quade Cooper, saam terug op hul pos nie die Force van stryk af bring nie. Dit was Ebersohn en Alby Mathewson wat na die komkommerkoel-skakelpaar gelyk het en nie die Reds se toetspaar nie.
Die Toyota Cheetahs moet dus katvoet loop, want Ebersohn korrel raak soos sy 14 punte teen die Reds bewys en hy ken die Cheetahs se spel en spelers deur en deur. Sy kennis sal gewis deur die Force gebruik word.

Die tweestryd tussen hom en Johan Goosen, wat Ebersohn se plek by die Toyota Cheetahs oorgeneem het, gaan nie plaasvind nie, want die Bok-losskakel het sy knie tydens ’n oefening beseer. Dit is ’n groot slag vir die besoekers. Met spelers soos Hugh McMeniman, Salesi Ma’afu, Chris Alcock en Angus Cottrell in hul agttal en gevaarlike aanvallers soos Will Tupou, Alfi Mafi en Winston Stanley kan die Cheetahs nie die Force onderskat nie.

Met die oorwinning van 27-20 teen die Waratahs het die Toyota Cheetahs gewys dat hulle hul huiswerk gedoen het en dat die spelers nou die volle duur van ’n wedstryd met mening kan inklim. Vrydag moes hulle immers ’n 20-17-agterstand na rustyd uitwis.
Willie le Roux was uitmuntend, terwyl Sarel Pretorius sy oud-Waratahmaats laat skarrel het. Bowenal het die Cheetahs met innoverende planne weer een van hul skerpste wapens, Raymond Rhule, in aanvalle betrek. Dit was egter weer die agttal wat die grondslag gelê het vir die sege. Die jong slot, Lodie de Jager, speel met elke wedstryd beter, terwyl losvoorspelers en al die plaasvervangers ’n rol gespeel het om hierdie oorwinning teen die Australiërs te behaal.

Punte:
Toyota Cheetahs 27 (17). Drieë: Robert Ebersohn, Raymond Rhule (2). Doelskoppe: Johan Goosen (3). Strafdoele: Goosen (2). Warathas 20 (20). Drieë: Peter Betham, Adam Ashley-Cooper. Doelskoppe: Brendan McKibben (2). Strafdoele: McKibben (4).
Ander uitslae: Crusaders 41 Bulls 19; Chiefs 35 Kings 24; Force 19 Reds 12; Hurricanes 23 Highlanders 19; Brumbies 29
Sharks 10.

No posts to display