GEORG VAN ECK
Saterdag gaan dit behoorlik in die Haai-tenk kook wanneer die Toyota Cheetahs en die Sharks mekaar skuins na 17:00 in Durban die stryd in hul Superrugby-kragmeting aansê. Suid-Afrikaanse derbies is altyd hard en genadeloos. Saterdag gaan dit nog meer intens en fisiek wees omdat albei spanne se segetog deur nederlae beëindig is. Die Toyota Cheetahs het naelskraap 26-20 teen die Bulls op Loftus Versfeld vasgeval, terwyl die Sharks 22-15 deur die Stormers geklop is.
Die Toyota Cheetahs speel in Durban met die wete dat hulle in weg-wedstryde kan seëvier. Dit was so hittete of die span het die Bulls in hul eie kraal voor honderde van hul helde van die afgelope 75 jaar geklop. “Ons het vir onsself kanse vir ’n oorwinning geskep, maar kon dit nie afrond nie,” het ’n teleurgestelde Cheetah-kaptein, Adriaan Strauss, ná die wedstryd gesê.
Die Bulls het die wedstryd met krag en mening begin, maar ondanks 60% balbesit en gebiedvoordeel was dit die Toyota Cheetahs wat rustyd 9-6 voorgeloop het. In die tweede skof het die besoekers aanvanklik die botoon gevoer en was dit nie vir die uitmuntende breekslag en drie onder die pale van die Bulls se skrumskakel, Jano Vermaak, nie, kon die Toyota Cheetahs die knoop deurgehak het. Die sewe punte het die besoekers gesink.
Die Toyota Cheetahs se agttal lewer uitmuntende spel. As Strauss, Trevor Nyakane, Lourens Adriaanse, Coenie Oosthuizen en Ryno Barnes weer die aanslag van die Sharks se voorry, Tendai (Beast) Mtawarira, Kyle Cooper en Jannie du Plessis, kan afweer, en jong Lood de Jager saam met die ander lynstaanspringers die bo-toon teen die Sharks se Pieter-Steph du Toit-hulle kan voer, is die stryd al amper halfpad gewonne.
Die lostrio Lappies Labuschagne, Philip van der Walt en Heinrich Brüssow hoef ook nie vir die Sharks se Keegan Daniel, Marcell Coetzee en Ryan Kankowski terug te staan nie. Dit is egter die ondernemende spel van die Toyota Cheetahs se agterlyn, waarin Robert Ebersohn op binnesenter en Willie le Roux as spelskepper ’n leidende rol speel, wat die knoop kan deurhak. Le Roux word deur kenners ongelukkig beskou om nie saam met sy vier Cheetah-maats, Strauss, Ebersohn, Raymond Rhule en Oosthuizen, daar te wees nie.
Die Sharks gebruik hul agterspelers spaarsamig, verdedig rotsvas en steun swaar op die skopskoen van hul Bok-losskakel, Pat Lambie. Goeie dissipline en gebiedvoordeel gaan dus deurslaggewend vir die Toyota Cheetahs wees, want binne trefafstand kán hul agterspelers drieë druk. Punte: Bulls 26 (6). Drieë: Jano Vermaak, Callie Visagie. Doel: Morné Steyn (2). Straf: Steyn (4). Toyota Cheetahs 20 (9). Drie: Trevor Nyakane. Straf: Burton Francis (4), Francois Brummer.
Ander uitslae: Stormers 22 Sharks 15; Kings 30 Rebels 27; Blues 28 Hurricanes 6; Force 16 Crusaders 14; Reds 31 Chiefs 23; Brumbies 30 Highlanders 19.