Cheetahs is ramkatte

0
607

GEORG VAN ECK

Die Toyota Cheetahs van Adriaan Strauss is ramkatte!
Dit het meer as 115 duikslae geneem, maar het die Reds, een van die gevaarlikste aanvallende spanne in die Superrugby-reeks, gefrustreerd, moedeloos en voos gelaat. Nog belangriker, die sege van 27-18 in die Vrystaat-stadion het die Toyota Cheetahs weer terug op die wenpad.

Groot lof moet voor die deur van die afrigtingspan van Naka Drotské gelê word.  Dit was rotsvaste verdediging, vurige inklimspel vir die volle duur van die wedstryd en fyn beplanning wat die belangrike sege verseker het – iets wat die vorige seisoene soms ontbreek het. Soortgelyke bepanning en spel gaan nodig wees om die fisieke inklimspel van die Kings Saterdag in die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth die hoof te bied en die Cheetahs te laat wen. Drotské-hulle het met hul kleiner spangroep bittermin ruimte vir maneuvers of rotasie van spelers gelaat en daar moes raakgevat word.

Die afrigtingspan se besluit om Piet van Zyl en Elgar Watts teen een van die beste skakelpare ter wêreld, Will Genia en Quade Cooper, in te span, was in die kol. Nie net was Van Zyl en Watts die sterre van die sege nie, maar die span se spelpatroon en uitgewerkte taktiese beweging wat op Van Zyl se tweede drie uitgeloop het, het alles gehelp om James Horwill-hulle te sink.
Al die vaste voorspelers, met Strauss aan die spits saam met die gedugte lostrio, Lappie Labushagne, Philip van der Walt en Heinrich Brüssow, het ’n rol gespeel om die Reds te tem.Teen gevaarlike snellers soos Luke Motahan, Rod Davies en Digby Ioane, was daar in die eerste helfte soms gate in die middelveld in die Cheetahs se verdedig, maar in die tweede skof het Robert Ebersohn en sy maats ’n byna ondeurdringbare muur gevorm.

Aan drama en spanning het dit nie in die kragmeting ontbreek nie.  Reeds in die tweede minuut moes die TV-skeidsregter, Shaun Veldsman, beslis oor Rod Davies se drie. Veldsman moes daarna verskeie kere die moontlikheid van drieë deur die Reds besleg en dit was net die drie van Ben Lucas teen die einde wat toegeken is. ’n Man wat lof verdien, is ongetwyfeld Hennie Daniller, wat drie seker drieë met sy verdediging verhoed het.

Punte:
Toyota Cheetahs 27 (18). Drieë: Piet van Zyl (2). Doel: Elgar Watts. Straf: Watts (5). Reds 13 (6). Drie: Ben Lucas. Doel: Quade Cooper. Straf: Cooper (2). Ander uitslae : Bulle 35 Highlanders 18; Crusaders 23 Blues 3; Chiefs 17 Hurricanes 12; Rebels 30 Stormers 21; Sharks 23 Force 13; Waratahs 28 Brumbies 22.
georg@centralmedia.co.za