Cheetahs groet staatmakers

0
133
Die Springbokstut, Ox Nche, sal vir die laaste keer vir die Toyota Vrystaat-Cheetahs in die Curriebeker speel voordat hy by die Haaie aansluit. Dié yster-voorryman sal egter vir nog 'n deel van die Guinness PRO14 vir die Cheetahs kan speel. FOTO: JAKO PIENAAR

Vir ‘n klompie spelers sal dit Saterdag die laaste geleentheid in die reeks wees om vir die Toyota Vrystaat-Cheetahs te speel wanneer die Curriebeker-eindstryd teen die Goue Leeus plaasvind.

Heelwat spelers, asook die afrigter, Franco Smith, sal die Cheetahs groet om hul loopbane elders voort te sit. Die Springbokstut, Ox Nche, is sonder twyfel die grootste staatmaker wat in sy laaste Curriebeker-wedstryd vir die Cheetahs sal speel. Hy gaan by die Haaie in Durban aansluit.

Sy spanmaat, Henco Venter, wat vanjaar rugby uit die boonste rakke speel, sal saam met Nche na die Ooskus verhuis.

Die woelige flank, Abongile Nonkontwana, wat net meer as ‘n jaar vir die Cheetahs gespeel het, sal terugkeer na die Bulle met sy visier op meer geleenthede in SuperRugby.

Nonkontwana was die afgelope jaar ‘n yster vir die Cheetahs en het nooit die span teleurgestel met sy spel op die veld of sy gesindheid af van die veld nie.

Die haker, Jacques du Toit, het vroeër in die week aangekondig dat hy ook sy tasse gaan pak en na die Baai verhuis waar hy vir die Southern Kings gaan speel.

Voordat die Curriebeker begin het, het die Cheetahs ook vir Shaun Venter (Wallis), Nico Lee (Frankryk) en Rudi Paige (Frankryk) gegroet.

Die Cheetahs se kaptein, Tian Meyer, het aan Bloemfontein Courant gesê om die beker vir die sesde keer omhoog te hou, sal ‘n gepaste manier wees om die staatmakers te groet.

“Ek hoop regtig dat dit so uitwerk vir die ouens. Ons het baie bande, ons het baie herinneringe, en as ons nog ‘n goeie herinnering kan maak, sal dit ‘n ongelooflike manier wees om die manne te groet.

“As ‘n span het ons ‘n doelwit en ons beplan om dit soveel moontlik saam te geniet.”

Smith sal op sy beurt aan die einde van die jaar in Italië aanmeld om dié land se nasionale span te slyp.

Nche, Venter en Du Toit het almal in die 2016-eindstryd teen die Blou Bulle gespeel. – MORGAN PIEK