Cheetahs binnekort weer op die oefenveld

0
763
Die Toyota Cheetahs slot, JP du Preez FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs sal binnekort weer op die oefenveld wees nadat die regering Saterdag aangekondig het dat deelnemers aan kontaksport weer kan begin oefen. Sportsoorte soos rugby en sokker mag egter in dié stadium nog aan wedstryde deelneem nie.

Die onlangse uitspraak deur die Gautengse Hooggeregshof dat vlak 3 en 4 van die nasionale inperking ongrondwetlik is, kan daartoe lei dat die land binne die volgende paar weke outomaties na vlak 1 geskuif kan word. Dit sal beteken dat sportmanne wat kontaksport beoefen ook weer mag begin meeding.

Rugby is sedert 18 Maart gestaak weens die Covid-19-pandemie, en spanne mag nou vir die eerste keer weer begin oefen, hoewel onder streng riglyne.
Die Cheetahs sal egter dié fase as ‘n goeie voorseisoen beskou, veral omdat dit nog maande kan duur.

Die nuutaangestelde Cheetahs-kondisioneringsafrigter, André Smith, sal Donderdag na Bloemfontein verhuis om met die span te begin werk.

Smith het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle gelukkig baie tyd het om te verseker dat die fiksheidsvlakke op standaard is.

“Die spelers sal tydens die oefensessies klein wedstryde speel, sonder kontak. Dit is belangrik dat hulle weer op die oefenveld is, met hul stewels aan. As ons eers weer op vlak 1 mag speel, kan dit ons twee maande gee om ordentlik fiks te word. Dit is basies ‘n goeie voorseisoen.

“Hoe meer tyd ons het om te oefen, hoe minder kans vir beserings.” – MORGAN PIEK