Chanté wen wéér

0
2158
Die skitterende 13-jarige fietsryer van die Hoërskool Sentraal het Saterdag weer eens in die eerste van 'n reeks van vier MTB (bergfietsry) XCO SA-beker-byeenkomste in Paarl gerieflik die septer geswaai in die sub-jeugafdeling vir meisies. FOTO: DERCKSEN OLIVIER

Net meer as twee weke gelede het die 13-jarige Bloemfonteinse fietsryer, Chanté Olivier (Sentraal), die bykans ongelooflike onderskeiding behaal om vir die sesde jaar agtereenvolgens die Suid-Afrikaanse (SA) padfietsrytitel én padtydtoets in haar ouderdomsgroep te wen.

Sy het Saterdag wéér in ‘n wedren op nasionale vlak – hierdie keer in bergfietsry – eerste oor die wenstreep gejaag. Olivier was in Paarl in aksie in die eerste van ‘n reeks van vier MTB (bergfietsry) XCO SA beker-byeenkomste waar sy in die afdeling vir sub-juniors koppe gestamp het.

Olivier het van meet af aan die pas vuurwarm gemaak en na die eerste van ‘n twee rondte-wedren was sy reeds 31-sekondes voor Chloe Bateson (KwaZulu-Natal). Kayleigh Scholtz (Westelike Provinsie) was in dié stadium in die derde plek, maar reeds meer as drie minute agter Olivier.

Die Bloemfonteiner het gedurende die tweede rondte die gaping vergroot en uiteindelik met ‘n tyd van 36:57 geseëvier. Bateson (37:50) moes tevrede wees met die tweede plek, bykans ‘n minuut agter Olivier.

Scholtz, wat derde geëindig het, was meer as vier en ‘n half minute agter Olivier.
Goeie nuus vir bergfiets-geesdriftiges is dat een van die MTB XCO SA beker-byeenkomste op 6 Mei by Happy Valley in Bloemfontein beslis word. – RUFUS BOTHA