Chanté Olivier, uitmuntende fietsryer van die Laerskool Willem Postma, het Saterdag voor haar tuisskare by Happy Valley, Bloemfontein, in die laaste been van die Nasionale XCO bergfietsreeks ‘n kragvertoning gelewer om die titel vir meisies 13–14 jaar te wen.
Die reeks is oor vyf byeenkomste beslis en punte is toegeken volgens die plekke wat jaers losgetrap het op byeenkomste wat in Mankele, Helderberg, Pretoria, Port Elizabeth en Bloemfontein beslis is.
Die 13-jarige Olivier, wat van 2016 vir Aerocare Bloemfontein Courant deelneem, het weens omstandighede buite haar beheer nie aan die Mankele- en Helderberg-byeenkoms deelgeneem nie en dit het dit moeilik gemaak om die algehele titel in te palm.
Haar grootste teenstander, Chloe Basson, was afwesig by twee byeenkomste, maar nie by dieselfde byeenkomste as Olivier nie. Basson het die Mankele- en Port Elizabeth-byeenkomste misgeloop.
Dié sameloop van omstandighede het beteken dat die twee knap fietsryers nie voor Saterdag in die Rosestad koppe gestamp het nie en voor laasgenoemde byeenkoms elk 400 punte in die reeks bymekaar gemaak het. Dit het beteken dat die een wat die Bloemfontein-wedren wen as nasionale kampioen gekroon sou word.
Olivier het met ‘n tyd van 42:47 geseëvier, terwyl Basson in die tweede plek in 51:49 klaargemaak het.
Olivier is as reekskampioen gekroon met 600 punte en Basson het die silwermedalje (550 punte) ontvang. Olivier is die enigste Vrystater wat vanjaar die onderskeiding kon behaal om ‘n Nasionale XCO-bergfietsreekstitel te wen.
In die elite-afdeling vir mans het Allan Hatherly en Philip Buys sake in Bloemfontein uitgespook om die titel en hoewel Buys Saterdag oorwinning gesmaak het in 1:29:58 was dit nie goed genoeg om hom ‘n algehele oorwinning oor Hatherly te besorg nie.
Hatherly het die reeks met 815 punte teenoor Buys se 800 punte gewen.
Cherie Vale het nie veel moeite ondervind om die reeks met 865 punte te wen nie teenoor die naasbeste, Frances du Toit, se 745 punte. Vale het Saterdag loshande gewen in 1:28:15 teenoor Vale se 1:40:00. – RUFUS BOTHA