Chanté val hard dag voor SA-bergfietswedren

0
1432
Een van die deelneemers tydens die derde rondte van die nationale bergfietskampioenskap by Happy Valley in Bloemfontein. FOTO: MORGAN PIEK

Die Bloemfonteiner en graad-8 leerling van die Hoërskool Sentraal, Chanté Olivier het so byna nie Saterdag voor haar tuisskare by Happy Valley in Bloemfontein vir die derde been van die Suid-Afrikaanse MTB- (bergfietsry) reeks aangetree om haar voorsprong in die sub-jeugafdeling vir meisies te behou nie. Olivier het die eerste twee wedrenne van die reeks gewen.

Sy het Vrydag die moeilike roete by Happy Valley gaan uittoets om haar slaggereed te kry vir die wedren. Sy het egter só hard met moederaarde kennis gemaak dat sy inderhaas hospitaal toe is om te verseker dat sy geen frakture tussen al die pyne deur opgedoen het nie.

Olivier het gelukkig geen beenbreuke opgedoen nie, en dié taai soos ‘n ratel fietsryer het die volgende dag aangetree vir haar wedren, pyne en al.

Sy het van meet af aan vir niemand gewag nie en die eerste van die twee rondte wedren in ‘n blitsige 21:53 afgetrap. Olivier was toe reeds meer as drie minute voor haar naaste teenstaander, Chloe Bateman, wat die eerste rondte in 24:31 voltooi het.

Olivier het in die tweede rondte haar voorsprong van so ‘n aard vergroot dat sy uiteindelik met bykans ses minute geseëvier het. Sy het in 44:38 oor die wenstreep gejaag, terwyl Bateman met 50:29 tevrede moes wees vir haar tweede plek. Madison Mann, wat derde geeindig het in 52:55 het nooit ‘n bedreiging vir die Bloem-blits ingehou nie.

Nog ‘n Bloemfonteiner wat amok gemaak het en sy teenstaanders goed in die stof laat byt het, is Jacques Malherbe. Hy het die afdeling vir sub-veterane mans oorheers en in die vier rondte wedren ‘n reuse oorwinning behaal. Hy het 1:07:28 op die uitslagkaart ingevul en net-net kort van vyf minute oor die tweede jaer, Duane Stander (1:22:22) geseëvier.

Dirk Maarsingh, alombekend in Bloemfonteinse fietsrykringe, wat onlangs die moordende Cape Epic bergfietwedren voltooi het, was Saterdag wéér op sy stukke. Hy het in die afdeling vir meesters die drie rondte wedren sy eie gemaak in 1:02:56. Hy het Alan van Coller (1:05:26) gerieflik in die silwermedaljeplek ingedwing.

Nog ‘n Bloemfonteiner, Ronel Odendaal het goud verdien in die afdeling vir sub-veterane vroue. Sy het in ‘n tyd van 1:29:19 (twee rondtes) gewen, maar was die enigste deelnemer in hierdie afdeling.

Die wedren vir elite mans is gerieflik deur die Kapenaar en internasionale jaer, Alan Hatherly en ook gunsteling om die reeks te wen, beklink. Hy het die ses rondte wedren in 1:34:45 voltooi.

Die afdeling vir elite vroue is eweneens maklik gewen deur nóg ‘n Kapenaar, Mariske Strauss (vyf rondtes) in 1:38:51 beklink.

236 jaers van oor die land heen het aan die byeenkoms deelgeneem. – RUFUS BOTHA