Celtic speel tuiswedstryde in die Baai

0
278
Tebogo Potsane van Bloemfontein Celtic in askie teen Chippa United in die Dr Petrus Molemela-stadion tydens die 2018/20 Premier-sokkerligaseisoen. FOTO: MORGAN PIEK

Die enigste Premier-sokkerligaspan in die Vrystaat, Bloemfontein Celtic, sal vir die voorsienbare toekoms hul tuiswedstryde in Port Elizabeth speel.

Dit is weens opgradering aan die Celtic-tuisveld, die Dr Petrus Molemela-stadion.
Die opgradering van onder meer die speelveld, asook die kleedkamers, sal die twee projekte wees wat die meeste aandag geniet.

Die klub het dus ‘n ooreenkoms gesluit om hulle tuisbepalings in die Baai te speel.

Ironies genoeg sal Celtic se eerste wedstryd op die Nelson Mandela Baai-stadion teen

Chippa United wees, wat reeds die stadion gebruik as hul tuisveld.

Voordat die huidige 2019/20-seisoen begin het, het Bloemfontein Courant berig dat van die klub se wedstryde op die Toyota-stadion gespeel sou word weens beplande opknapping, maar dit is egter op die ys gesit.

Die klub het bevestig dat herstelwerk aan die stadion sal begin en dat ondersteuners nie hul sokkerspan vir tyd en wyl tuis in aksie sal sien nie.

“Weens vele klagtes deur besoekende spanne en PSL-ampetenare sal ons tuisveld, die Dr Petrus Molemela-stadion opgeknap word. Die speelveld asook die kleedkamers sal tydens die herstelwerk opgeknap word. Dit beteken dat ons wedstryd teen Chippa United asook ander opkomende bepalings ongelukkig op die Nelson Mandelabaai-stadion gespeel sal word.

“Dit sal die geval wees tot en met die speelveld heeltemal herstel is en ook totdat ons klaar is met die opgraderings. Die klub sal in ‘n later stadium ‘n verklaring uitreik oor wannneer die tuiswedstryd weer in Bloemfontein gespeel sal word,” het ‘n woordvoerder gesê.

Die stadion, wat voorheen as die Seisa Ramabodu-stadion bekend gestaan het, was in 2008 vir nagenoeg R60 miljoen opgradeer sodat dit aan FIFA-standaarde kon voldoen. Die veld is as ‘n oefenveld bestempel vir die 2010-FIFA Wêreldbeker wat in Suid-Afrika gespeel is.

Die stadion is weer eens opgeknap oor ‘n tydperk van drie jaar en die bouwerk is in 2015 voltooi. Die nuwe stadion beskik ook ‘n tartan-atletiekbaan wat bitter selde gebruik word en in dié stadium in ‘n slegte toestand is. Voorheen was die atletiekbaan slegs ‘n grasbaan. – MORGAN PIEK