Celtic positief oor bekereindstryd

0
143
John Maduka - BackpagePix

Bloemfontein Celtic het tot dusver in die Premier Sokkerliga gesukkel deur twee keer te verloor en een keer gelykop te speel in hul drie wedstryde wat reeds gespeel is.

Die gees in die span loop egter nog hoog siende dat hulle in minder as twee maande hul plek in die eindstryd van ‘n bekerkompetitise bespreek het.

Celtic het in September met 1-0 teen Mamelodi Sundowns vasgeval in die eindstryd van die Nedbankbeker, maar hulle het hul les geleer en het sake reggestel. ‘n Maand later het hulle Sundowns met 1-0 getroef in die kwarteindstryd van die MTN8-beker.

In die halfeindstryd van die jaar se eerste bekertoernooi het Celtic in Pretoria tydens die eerste been met 1-1 gelykop gespeel teen die verdedigende kampioene, SuperSport United.

Ses dae later het Phunya Sele Sele hul plek in eindstryd van die kompetisie bespreek toe hulle in die tweede been SuperSport met ‘n 1-0-sege die trekpas gegee het.

Celtic het wel oor die afgelope paar jaar die eindstryd van verskeie bekerkompetitsies bereik, maar hulle het immers in 2012 ‘n trofee omhoog gehou toe hulle die Telkom Uikloptoernooi gewen het.

Die Celtic-breier, John Maduka, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle dié keer baie positief is.

“Die belangrikste ding is dat ons in die eindstryd is, en ons sien daarna uit. Dit is ‘n beker-eindstryd en enige iets kan in ‘n beker-eindstryd gebeur.

“Dit is ons tweede beker-eindstryd in ‘n kort tydperk, en ons het geleer uit die Nedbankbeker-eindstryd. Hierdie keer dink ons dat dit ‘n ander storie sal wees.”

Celtic sal die Soweto-reuse, Orlando Pirates, die stryd aansê in die finaal nadat hulle hul aartsvyande, Kaizer Chiefs, met seges van 3-0 en 2-0 uitgeskakel het.
Die PSL moet nog die datum en die plek van die MTN8-eindstryd bevestig. – MORGAN PIEK