Carlyn derde in fietsrykampioenskap

0
1039
Die oud-skolier van die Hoërskool Eunice in die Rosestad, Carlyn Fischer, het Saterdag in Brakpan 'n goeie vertoning op die Gautengpadfietsry- en tydtoetskampioenskap gelewer. FOTO: STUART PICKERING

Die Vrystaatse driekampkampioen in die elite-vroueafdeling, Carlyn Fischer, het Saterdag by die Gauteng padfietsry- en tydtoetskampioenskap in Brakpan haar stempel deeglik afgedruk deur in die tydtoets vir elite-vroue oor 30km die bronsmedalje in te oes.

Fietsry is slegs een van haar dissiplines in driekamp (swem, fietsry en hardloop), maar sy het gesoute en spesialisfietsryers harde bene laat kou.

Fischer, een van Suid-Afrika se voorste driekampers in die afdeling vir elite-vroue en voormalige Afrika onder-23-kampioen in dié sportsoort, het in Brakpan die genoemde 30km in 52:51 afgetrap. Die wenner, Chané Jonker, en naaswenner, Elmari de Wet, het onderskeidelik 48:04 en 49:52 op die tydhou-apparaat geregistreer.

Jonker het verlede jaar vir agt maande ‘n strawwe en suksesvolle wedrenprogram in Amerika gevolg en is nou terug in Suid-Afrika. Daar word verwag dat sy amok gaan maak gedurende die Suid-Afrikaanse fietsryseisoen. Sy is boonop ‘n voormalige kampioen van die gewilde Lost City-padwedren. – RUFUS BOTHA
info@bloemfonteincourant.co.za