Carlyn derde in Afrika-reeks

0
1290
Carlyn Fischer PHOTO: TRIATHLON.ORG

Die Vrystaat se voorste driekampatleet in die elite-afdeling vir vroue, Carlyn Fischer, het Saterdag die Reënboognasie se vlag hoog laat wapper tydens een van ‘n reeks byeenkomste waaraan atlete moet deelneem om ‘n kans te staan om die Afrika-beker te verower. Fischer het die bronsmedalje losgeswem, -getrap en -gehardloop.

Die byeenkoms is in Larache, Morocco, beslis en deelnemers het in die korter weergawe (sprint) van dié sportsoort mekaar die stryd aangesê.

Fischer, wie se swemdissipline nie haar sterk punt is nie, het in 10:06 uit die water geklim. Sy was ná die swemskof 14 sekondes agter die uiteindelike wenner, Ksiniia Levkovska (Azerbaijan) wat 9:52 geswem het. Die Italianer, Illaria Zane, wat algeheel tweede geëindig het, het die swemskof eerste in 9:44 voltooi.

Levkovska (31:06) het haar staal gewys in die fietsryskof (31:59). Sy het vir Zane (32:06) en Fischer (32:30) agterweë gelaat.

Met die hardloopskof was Fischer die beste daaraan toe. Sy het ‘n tyd van 17:28 gehardloop terwyl Levkovska en Zane met onderskeidelike tye van 17:28 en 17:57 tevrede moes wees.
Fischer se vinnige hardloopskof het egter slegs die gaping verklein, maar sy kon nie die genoemde twee atlete voor die einde inkatrol nie.

Levkovska het uiteindelik gewen in 59:39. Zane was tweede oor die eindstreep in 59:59 met Fischer (1:00:17) derde en minder as 40 sekondes agter die wenner.
Hulle moes 750 m swem, gevolg deur 20 km fietsry en het klaargemaak met ‘n 5 km-hardloopskof.

Levkovska het egter in die fietsryskof die vinnigste vertoon deur 17:28 af te trap. – RUFUS BOTHA