Carel du Toit open oudiologiesentrum

0
996
Carin Taute, die skoolhoof van Carel Du Toit

Die Carel Du Toit Skool in Bloemfontein het ‘n oudiologiesentrum geopen om leerders se leerervaring te verbeter. Carel du Toit se skoolhoof, Carin Taute, sê die skool is ‘n skool vir kinders met gehoorgestremdhede.

Taute sê in 2016 het hulle besef dat die kinders vroeër gediagnoseer moet word. “Hoe vroeër ons ‘n kind kan diagnoseer, hoe groter is ons sukses om taal aan daardie kind te leer. Ons het aansoek gedoen vir ‘n gehoorsiftingsmasjien en ons het befondsing gekry. Al die onderwysers het opleiding ontvang om die masjien te gebruik.”

Taute sê hulle sal meestal op taalonderrig fokus in die hoop dat ‘n kind teen graad 3 ‘n hoofstroomskool sal kan bywoon. Baie ouers besef nie dat hul kinders gehoorprobleme het nie. Die kind kan dan nie sekere geluide hoor nie, wat daartoe lei dat hulle nie daarop reageer nie.

“Ons oudiologiesentrum het hieruit gegroei en hoe vinniger ‘n kind se gehoorapparaat reggemaak kan word, hoe vinniger het hy of sy toegang tot klank en ons kan voortgaan met leer,” sê Taute.

Die skool het leerders gewoonlik na die Pelonomi-hospitaal geneem om hul gehoorapparate te laat herstel, maar nou kan hulle dit op hul perseel doen.

Blaine Jones

blaine@centralmediagroup.co.za