CHRISTAL-LIZE MULLER & MARICELLE BOTHA
Terwyl die stof nog nie gaan lê het oor die sogenaamde vernuwingsproses by die Universiteit van die Vrystaat se JMB
Hertzog-koshuis nie, neem studentedekaan, Rudi Buys, vanaand deel aan ’n gereelde openbare interaksie met studente op
kampus.
Buys sal tussen 17:00 en 18:00 by die dameskoshuis Soetdoring homself in die warm stoel bevind as hy deelneem aan
die kampus se weergawe van die gewilde komediekonsep Rudi’s Roast. Op ’n Facebook-blad Petition against Rudi
Buys, UFS Dean of Student Affairs, wat deur ’n fiktiewe gebruiker geopen is, word studente aangemoedig om die geleentheid
te gebruik om Buys aan te vat en hopelik sal hy lig op die kontroversie rondom sy hantering van studentesake werp.
Intussen maak oud-inwoners van JBM Hertzog-koshuis op die Universiteit van die Vrystaat se Bloemfontein-kampus nou
ook hul stem dik teen die universiteit se sogenaamde vernuwingsproses en sprake dat dié koshuis se naam kan verander.
Voormalige primarius van 2006 tot 2008, Aidan Kingwill, sê ’n komitee wat uit voormalige koshuisinwoners bestaan, moet
spoedig saamgestel word vir die behoud van die koshuis se naam, tradisies en ryk geskiedenis. Oud-inwoners word nou per
brief genader om hul insae te lewer en die komitee spoedig te bekragtig. Volgens Kingwill is oud-inwoners nie teen vernuwing
gekant nie, maar hulle glo die UV se vernuwingsproses moet deel vorm van ’n deursigtige konsultasieproses met alle
betrokkenes. Volgens Kingwill is dit teleurstellend dat die universiteit nie die stem van oudinwoners van belang ag nie. Juis daarom is dit noodsaaklik dat dié komitee so spoedig moontlik saamgestel word sodat die universiteit uit een mond genader kan word.
Luidens die brief wat in sirkulasie is, word die JBM Hertzog-koshuis onder die vergrootglas geplaas en verandering
word nou afgedwing onder leiding van die universiteit se studentedekaan, Rudi Buys, en die visekanselier en rektor, Jonathan
Jansen. In die brief word daar verwys na die feit dat twee huiskomiteelede reeds bedank het, terwyl verskeie senior inwoners
al uit die koshuis uitgetrek het weens Buys se “verander of verdwyn”-beleid.
Die UV word in die brief gekritiseer vir sy outokratiese benadering omdat daar eenvoudig besluit is om voort te gaan met sy vernuwingsproses sonder dat inwoners en “ou manne” (oud-inwoners)
daarin geken is.
Die komitee gaan nou ’n daadwerklike poging aanwend om tussenbeide te tree en dié koshuis te red.
Standpunt moet nou ingeneem word vir die behoud van die Kovsie-studentelewe.
Oud-inwoners van die JBM Hertzog-koshuis word gevra om ’n e-pos aan aidankingwill@me.com of gavinmludick@yahoo.co.uk te
stuur. In die e-pos moet oud-inwoners hul persoonlike besonderhede plaas.
christal-lize@centralmediagroup.co.za
maricelle@centralmediagroup.co.za