Buurte vind baat by skoonmaaksessies

0
367
Inwoners van Bloemfontein werk al hoe meer saam om hul buurte skoon te hou.

Gemeenskappe in Bloemfontein vat al hoe meer hande en staan saam om die woonbuurte in die stad skoon en netjies te hou – hetsy dit nou is om self vullis te verwyder of om die sypaadjies in stand te hou.

Vir lank reeds is die Fichardpark Woonbuurt Assosiasie (FWA) verantwoordelik vir die instandhouding van hul woonbuurt. Vullis het nie meer vir weke lank langs die strate gestaan nie en die gras langs die paaie is netjies gesny. Gou het nog woonbuurte assosiasies geskep vir ‘n skoner Bloemfontein.

Afriforum, die FWA, sowel as die assosiasies in Wilgehof, Hospitaalpark en Universitas, het vandeesweek in samewerking met Johan Horak Enterprises gesorg vir ‘n gesamentlike skoonmaaksessie wat 35 werkers betrek het. Die fokus was op die spoorlyne in Kommandant Erweestraat, George Britspark en Montgomerystraat in Wilgehof.

Dit vat egter beplanning om so ‘n skoonmaaksessie suksesvol te laat afloop. Daar word sekuriteit gebied vir die betrokkenes, kos en koeldrank word aan die werkers verskaf, en dan moet daar ook petrol vir die instandhoudingsmasjiene voorsien word.

Hoewel die assosiasies saamwerk om die omgewing skoon en netjies te hou, word daar ‘n beroep op inwoners en ondernemings gedoen om te verseker dat die werk wat gedoen word, in stand gehou word sodat inwoners weer trots op hul stad kan wees.

Die volgende skoonmaaksessie vind op 25 Mei in Universitas plaas.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za