Die polisie op Roadside in die Vrystaat ondersoek die oorsaak van ‘n ongeluk waarin twee Intercape-passasiers in die vroeë oggendure op die N3 in ‘n botsing dood is. Polisiewoordvoerder, Zweli Mohobeleli, sê die bus het net ná middernag teen ‘n Scania-vragmotor gebots. Hy sê ‘n 30-jarige man en ‘n 31-jarige vrou is op die toneel dood. ‘n Klag van strafbare manslag word ondersoek. Netcare 911 se woordvoerder, Chris Botha, sê sover bekend was daar 71 passasiers op die bus en drie bemanningslede wat geringe tot ernstige beserings opgedoen het.
Hy sê met paramedici se aankoms omstreeks 02:00 op die N3 in die rigting van Durban, sowat 50 km van Warden in die rigting van Durban, KwaZulu-Natal, het wrakstukke verstrooid oor die pad gelê. Die bus het van agter teen die vragmotor gebots. Die voorste deel van die bus was uitmekaar geruk. Paramedici moes bo op voertuie staan en deur die venster klim om by die beseerdes uit te kom.
Volgens hom het Netcare 911 ses beseerdes na nabygeleë hospitale vervoer. Twee van dié beseerdes was in ‘n kritieke toestand. Ander mediese nooddienste was ook op die toneel en het die beseerdes behandel en na hospitale geneem. – Christal-Lize Muller