Die Bloemfonteiner, Dean Burmester, het oor die naweek weereens bewys dat hy ‘n gholfspeler vir groot toernooie is deur gesamentlik 12de te eindig by die 106de PGA-kampioenskap op die Valhalla Gholfbaan in Louisville, Kentucky.
Hoewel dit Burmester – wat by Grey Kollege op skool was en in Bloemfontein groot geword het – se beste major tot nog toe was, het hy nie die Wanamaker-trofee omhoog gehou nie. Hy het wel ‘n uitnodiging na volgende jaar se PGA Kampioenskap by Quail Hollow Club in Charlotte, North Carolina, gekry.
Die 34-jarige Burmester, wat deesdae sy gholf in die LIV-reeks speel, het sy toernooi op 12-onderbaansyfer afgesluit om die 12de plek te deel met onder andere spelers soos die voormalige wêreldbeste en tweemalige PGA Kampioenskap-wenner, Rory McIlroy van Noord-Ierland, asook die voormalige Nedbank Uitdaagtoernooi-kampioen, Alex Norén van Swede.
Burmester het die seisoen drie groot oorwinnings behaal en sy selfvertroue loop sonder twyfel baie hoog. Laat verlede jaar het hy koning gekraai toe hy die Joburg Ope op die Europese Toer gewen het, en ‘n week later het hy die Suid-Afrikaanse Ope vir ‘n eerste gekeer gewen. Meer onlangs het hy sy grootste sege nog beklink toe hy die LIV Miami-toernooi in Florida gewen het nadat hy die 2017 Meesters-kampioen, Sergio Garcia, met ‘n uitspeelputjie geklop het. Vir dié oorwinning het Burmester nagenoeg R75 miljoen in die sak gesteek.
Burmester sal nou vir ‘n rukkie die gholfstokke bêre en ‘n bietjie tyd met die familie in Suid-Afrika deurbring. – MORGAN PIEK