Burger en Richards gekroon as wêreld-biahlekampioene

0
451
Twee Bloemfonteinse senior biatlhe- (hardloop, swem en weer hardloop) atlete, Berend Burger en Teresa Richards, het die naweek in Gautemala (Suid-Amerika) ‘n ondeskeiding behaal wat nog nooit gesamentlik deur twee Bloemfonteiners vermag is nie. Inteendeel, geen Suid-Afrikaanse senior man kon ooit dié titel buit nie.

Burger en Richards het die wêreldkampioenskaptitels in onderskeidelik die seniormans- en seniorvroue-afdelings vir die Reënboognasie gewen.

In Burger se wedloop moes hulle eers 1500m hardloop, daarna 200m swem (in die see) en afsluit met nóg ‘n 1500m-hardloopskof.

Burger het sy hande vol gehad met twee atlete van Portugal en na die eerste hardloopskof en swemskof het hy saam met die een Portugues, Ricardo Rigo, uit die water uitgeklim met slegs die laaste hardloopskof oor.

Burger het Rigo oor die laaste 1500m stukkend gehardloop om in 10:35 goud op te raap. Rico (11:04) was uiteindelik sowat 200m agter Burger. Portugal se Tiago Sousa was slegs in die begin binne trefafstand, maar het daarna in die spreekwoordelkie trurat beweeg en was derde in ‘n beskeie 11:58.

Richards se veggees het vir haar die knoop deurgehak vir Suid-Afrika se tweede senior goue medalje. Sy het die wind van voor gekry en na die eerste 1500m-hardloopskof is sy tweede in die water in vir die 200m swem.

Sy het aan Courant gesê: "Ek het ‘n verkeerde roete geswem en verder geswem as wat ek moes. Toe ek die water klim was daar twee vroue van Britanje en ‘n Italianer voor my, maar toe byt ek op my tande en het die gaping redelik vining toegemaak".

Richards het uiteindelik die goue medalje ontvang vir haar wentyd van 12:48 en selfs met die genoemde swemblaps agter die blad, was sy steeds 21 sekondes voor die naaswenner, Rachel Jones (Britanje, 13:09).

Jones se Britse spanmaat moes met ‘n derdeplek in 14:06 tevrede wees.

Ander Vrystaters wat hulle goed van hulle taak gekwyt het was Donna le Roux (eerste, meisies o.8), Christina Alexander (tweede, meisies o.11), Alex Klopper (derde, meisies o.11).