
Build It Mangaung het vir jare lank na ’n oop stuk veld gekyk waar mense onwettig hul vullis gestort het, en waar mense ingewag en beroof is. In 2019 is daar besluit om dié veld te verander, nadat Hodisa Tegniese Skool Build It Mangaung genader het vir ’n borgskap.
Petrus Steyn, Build It Mangaung se eienaar, het besluit dat die stuk veld oorkant hul deure benut kan word en alle spanne in die gemeenskap sal daarby kan baat.
“Die hoofdoel van die veld is om die kinders van Hamilton ’n veilige area te gee waar hulle kan sokker oefen, en dat hulle iewers het om ná skool te gaan waar hulle aktief kan wees – wat nie bendes of dwelms behels nie,” só verduidelik Ewalda Bouwer, Operasionele Bestuurder by Build It Mangaung.

“Die welstand en werk om die kinders te wys dat hulle meer het om na te strewe, lê ons na aan die hart.” Die sokkerveld wat Build It gebou het, sal ook gebruik word om deur die jaar jeugtoernooie aan te bied. Dit is ook die tuisveld van die Build It Mangaung Korporatiewe liga. Werk aan die veld en gronde het in 2019 begin, maar verdere werk is ook rondom die velde gedoen. “Daar is ook werk aan die paaie en stormwaterstelsel gedoen,” het Bouwer vertel, “omrede dit ook onklaar geraak het. Ons het gedurende 2023 dit afgehandel en die heining opgesit om te keer dat die kinders nie in die verkeer beland as hulle die bal uit die veld skop nie,” het sy bygevoeg.
Die nuwe veld vir die Hamilton-gemeenskap, asook die toernooi wat deur Build It Mangaung begin is, is saam met hul 10de verjaardag in gebruik geneem.
“Die sokkertoernooi en vieringe van 10 jaar van Build It Mangaung sou altyd saamgeval het, maar die opening was nie van die begin af so beplan nie,” het Bouwer verduidelik.
“Dit het net nader aan die tyd meer sin gemaak om alles op een naweek te vier.”
“Ons sal voortaan die veld gebruik vir gemeenskapsprojekte as ’n manier om te sien hoe ons verder waarde kan toevoeg tot die Hamilton-gemeenskap en ook die groter Bloemfontein gemeenskap,” het Bouwer afgesluit
Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za