Buig of bars vir VS-Cheetahs teen WP

0
429

GEORG VAN ECK

Nou flikker die ligte helderrooi vir die Toyota-Vrystaat-Cheetahs en ’n klinkende sege oor die Westelike Provinsie Saterdag om 17:05 op Nuweland is waarskynlik die enigste manier om ’n moontlike relegasie/promosie-wedstryd in die Absa Curriebekerreeks vry te spring.
Die laaste rondte ligawedstryde om die Curriebeker word die komende naweek gespeel en die Vrystaters bevind hulle byna heel onder aan die puntelys.
Die feit dat die Springbokke eers weer oor ’n maand teen Ierland in Dublin (10 Oktober) en daarna teen die Skotte op Murrayfield en die Engelse op Twickenham speel, verseker dat al die unies nou hul beskikbare Bokke kan inspan.
Ook hier trek die Vrystaat, wat erg deur beserings geteister word, aan die koste end. Die WP kan met sewe Bokke, Bryan Habana, Juan de Jongh, Jean de Villiers, Duane Vermeulen, Andries Bekker, Eben Etzebeth en Tiaan Liebenberg, versterk word, terwyl die Vrystaters net twee spelers, Adriaan Strauss en Coenie Oosthuizen, bykry.
Die jong Bok-losskakel, Johan Goosen, is met ’n besering van die veld af teen die All Blacks en dit is onwaarskynlik dat hy oorweeg sal kan word.
Robert Ebersohn se span het die skrale troos dat hy ’n bonuspunt teen die voorste span op die puntelys verdien het in die nederlaag van 37-30 teen die Haaie in Bloemfontein.
Daar was een helder ligpunt en dit is die spel van die blitsige jong vleuel Raymond Rhule. Hy het die Haaie laat bontstaan en het twee van sy span se drie drieë gedruk.
Maar soos die Vrystaters se kaptein, Robert Ebersohn, tereg na die wedstryd opgemerk het, segeskom deur ’n spanpoging en daar kan nie net op individue staatgemaak word nie.
In die kol. Die Vrystaters moes en kon gewen het. Die span het in ’n stadium 70% balbesit en gebiedvoordeel gehad, maar kon keer op keer nie afrond nie.
Behalwe Rhule het die Vrystaat-Cheetahs bitter min slaankrag en vaart agter. Die verdediging is ook nie altyd na wense nie – die tweede drie van Odwa Ndungane is op ’n skinkbord weggegee.
Die Vrystaters se voorspelers met vurige spelers soos Philip van der Walt, Lappies Labuschagne, Izak van der Westhuizen, Marcel van der Merwe en Hercu Liebenberg aan die spit, staan nog hul man, maar die agterlyn het bittermin deurdringingsvermoë – Rhule uitgesluit.
Dalk gee Strauss en Oosthuizen se terugkeer die Vrystaters daardie hupstoot vir ’n sege.
CB-puntestand: 1. KZN-Haaie 30; 2. Goue-Leeus 28; 3. WP 20; 4. Griekwas 20; 5. Vrystaat-Cheetahs 20; 6. Blou Bulle 18.
Punte: KZN-Haaie 37 (15). Drieë: Odwa Ndungane (2), Paul Jordaan, Jacques Botes, Kyle Cooper. Doelskoppe: Meyer Bosman (3). Strafdoele: Bosman (2). Toyota Vrystaat-Cheetahs 30 (10). Raymond Rhule (2), Sarel Pretorius. Doelskoppe: Nico Scheepers (3). Strafdoel: Scheepers.
Ander uitslae: Blou Bulle 26 WP 13; GWK Griekwas 37 Goue Leeus 21.