Die alombekende evangelis, Angus Buchan, kom die einde van die maand na Bloemfontein om vir reën te bid. Een van die organiseerders, André Venter, ‘n sakeman van die Rosestad, sê Buchan het ‘n paar plaaslike sakelui genader om met die reëlings te help.
Hy sê Buchan is van mening dat boere en die breë gemeenskap van Suid-Afrika ‘n punt bereik het waar hulle nie verder sonder God kan voortgaan nie. By monde van Buchan moet daar vir geestelike en fisiese reën gebid word.
Buchan sal op 30 Januarie om 10:00 op Naval Hill ‘n biddiens hou. Volgens Venter het Buchan juis op Naval Hill besluit omdat dit die stad se middelpunt is en Bloemfontein die hart van Suid-Afrika is. Die musikant, Joe Niemand, sal saam met Buchan optree. Mense word gevra om kampstoele, sambrele en drinkwater saam te bring. Toegang is gratis, maar mense moet vooraf toegangskaartjies by iTickets verkry. Hekke open om 08:15. Skakel 051-444-4609 vir meer inligting. – Christal-Lize Muller