Bruhns puik in tweekamp

0
1370
RUFUS BOTHA

Die veelsydige Heinrich Bruhns het Saterdag die meeste punte verdien by ‘n tussenprovinsiale tweekampbyeenkoms wat in Bloemfontein beslis is.

Bruhns, wat vir die Suid-Vrystaat (SVS) deelgeneem het, het in die afdeling vir seuns onder 7 nie minder nie as 2349 punte in die 2000m op asook in die 100m-swem behaal. Hy het egter goeie teenstand gekry van sy SVS-spanmaat, Frans Marx (2287 punte) en die Oostelike Provinsie-atleet, Gareth Vorster (2238 punte).

Bruhns was koning in die genoemde hardloopskof met ‘n tyd van 6:11,93 en Marx het self ‘n tyd van 6:17,42 aangeteken. Vorster, wat sterker swem as hardloop het die hardloopskof in 6:38.13 voltooi, maar toe dié manne die wegspringskoot vir die swem hoor, was Vorster in ‘n klas van sy eie.

Hy het die 100m-swem in ‘n kookwater 1:01,16 voltooi en vir Bruhns (1:03,19) en Marx (1:06,61) golwe laat sluk. Die koeël was egter toe reeds deur die kerk en die Suid-Vrystaters het genoeg punte versamel om steeds voor Vorster te eindig.

Nog ‘n Suid-Vrystater wie se vernaamste teenstaander ook van die Oostelike Provinsie af gereis het, was Gean Viljoen. Dié knapie was oudergewoonte op sy stukke en was een van ‘n handjievol atlete wat meer as 2300 punte by die byeenkoms op die uitslagkaart kon inskryf. Viljoen het in die afdeling vir seuns onder 13 die hardloop- (1200m) en die swem- (100m) skof met die spreekwoordelike seemyl gewen. Hy het ‘n goeie 4:00,41 gehardloop en ‘n nóg beter 1:05,93 geswem.

Hy het die man van die Oostelike Provinsie, Elmo van Olm, bloedneus gegee. Van Olm kon slegs 2042 punte bymekaarskraap vir sy tweedeplek nadat hy bykans 200m agter Viljoen in die hardloopskof geëindig het. Van Olm het 4:36,20 gehardloop en ook die wind van voor gekry in die swemskof met ‘n swak 1:14,78.

Viljoen se suster, Mizan (2298-punte) het met ‘n reuse-verrassing vorendag gekom toe sy haar SVS-spanmaat en Jeug- Olimpiese Spele- driekampatleet, Jayme-Sue Vermaas (2271 punte) in die afdeling vier meisies onder 17 verslaan het.

In die meisies onder 15-ouderdomsgroep het twee atlete meer as 2300 punte vermag, maar hierdie keer was dit die Oostelike Provinsie wat baas was – ook maar nét-nét. Lisa Venter (Oostelike Provinsie 2319 punte) het die Suid-Vrystater, Nadine Kemp (2316 punte met slegs drie punte geklop. Kemp was eerste in die hardloopskof en Venter eerste in die swemskof, maar laasgenoemde het genoeg punte in die swem verdien om as wenner gekroon te word.