Brits toor met veldatlete

0
706
Die skitterendelatletiekafrigter, Jan Brits (middel) se veldatlete het vanjaar reeds silwerware by onderskeie Vrystaat-atletiekkampioenskappe ingepalm. Hier is twee van sy provinsiale kampioene, Judy Watson (links, Jim Fouché) en een van Grey-kollege se voorrang-diskusgooiers, AJ Booysen. FOTO: PETRI WATSON

Die passievolle, stil en beskeie onderwyser van die Laerskool Grey-kollege, Jan Brits, word beslis nié die lof toegeswaai wat hom toekom vir die jarelange uitmuntende prestasies wat atlete onder sy vaandel as afrigter, in veral diskusgooi en gewigstoot, opgedis het nie.

Brits het die afgelope twee dekades verskeie provinsiale en nasionale kampioene, asook rekordhouers in dié atletiekdissiplines die boonste sport help bereik.

Blaai jy slegs deur die uitslae van vanjaar se onderskeie Vrystaatkampioenskappe, is dit opvallend dat dié yster se atlete nie minder nie as agt provinsiale titels agter hulle name geskryf het. En, twee van dié titels was boonop Vrystaat-rekordpogings.

Collette Uys het onlangs by die Atletiek Vrystaat-kampioenskap die gewigstoot vir junior vroue met ‘n mooi afstand (12,05 m) gewen, maar dit was in die diskusgooi waar hierdie produk van Brits ontplof het. Sy het die goue medalje met ‘n skitterende 45,66 m gewen en sodoende die provinsiale rekord haar eie gemaak.

Brits se jong span het Saterdag by die Vrystaat-laerskolekampioenskap in Sasolburg eweneens uitstekend vertoon met Judy Watson (Jim Fouché) aan die voorpunt. Hierdie talentvolle atleet se opwaarste kurwe vandat sy onder die wakende oog van Brits oefen, is iets om oor huis toe te skryf.

Watson het in Sasolburg in die afdeling vir meisies 12 jaar met ‘n praggooi die gewigstoot gewen met ‘n afstand van 11,50 m en op die koop toe korte mette gemaak van die Vrystaatrekord in dié nommer. Nog ‘n atleet wat deur Brits afgerig word, Ané Goosen (Saamwerk, 9,19 m) was tweede. Watson het ook die hoogste trappie van die podium bestyg nadat sy die diskusgooi met ‘n netjiese afstand van 32,08 m beklink het. Goosen het weer silwer ingeoes met ‘n gooi van 29,75 m.

Die Grey-brak, AJ Booysen, het self sy kant vir die Brits-oefengroep gebring. Hy het koning gekraai in die afdeling vir seuns 12 jaar in die diskusgooi (34,14 m) en toe kom sy ouer Grey-“broer”, Heinrich Theron, en wys sy makkers waar Dawid die wortels gegrawe het.

Die kragtige Theron het in die afdeling vir seuns 13 jaar die gewigstoot (12,77 m) en diskusgooi (41,80 m)-titels ingepalm en in albei gevalle sy naaste teenstanders met bykans ‘n meter gewen.

Die Vrystaat-hoërskolekampioenskap is ook die naweek (Bloemfontein) beslis en nog een van Brits se atlete het goud opgeraap. Danita du Plessis (Sentraal, 12,91 m) het die gewigstoot vir meisies 14 jaar gewen en dit opgevolg met ‘n bronsmedalje in die diskusgooi (33,31 m). Nog ‘n leerling van Sentraal wat deur Brits touwys gemaak word, Diaan Marais, het die tweede plek (48,64 m) in die afdeling vir seuns 17 jaar in die diskusgooi ingeneem.

Brits is ná genoemde laerskolekampioenskap in Sasolburg aangewys as die Vrystaat se gooie-afrigter, en dit vir die 11de jaar agtereenvolgens. Hy is ook ‘n skitterende rugby-afrigter en is hoofafrigter van die Vrystaat o.13-Cravenweekspan, asook die Vrystaat- sewesspan. -RUFUS BOTHA