Briljante jong tjellis in aksie

0
522

MARICELLE BOTHA

Die briljante jong Colombiese tjellis Santiago Valencia sal eersdaag die Stad van Rose besoek. Valencia tree op 30 Mei om 19:30 saam met die pianis José Dias in die Odein op.
Die konsertprogram sluit Tchaikovsky se Pezzo Capriccioso, Beethoven se Sonate in A majeur, Op. 69, Cassadó se Dance of the Green Devil, Debussy se Sonate vir tjello en klavier en Ginastera se Sonate vir tjello en klavier, Op. 49 in. 
Valencia is in Mei 1995 in Bogotá (Colombië) gebore en neem vanaf vierjarige ouderdom tjelloles by sy moeder en ontvang daarna formele opleiding by die Poolse tjellis, Maestro Henryk Zarzycki (Bogotá). Hy is reeds wêreldwyd bekend vir sy buitengewone musikaliteit en virtuositeit.
Hy maak op sesjarige ouderdom sy debuut as konsertsolis toe hy Vivaldi saam met die Bogota Filharmonic uitgevoer het. Sedertdien het hy al saam met leidende orkeste opgetree met werke soos Haydn se D-majeur Tjellokonsert (nege jaar), die Dvorák Tjellokonsert (as twaalfjarige) en die Shostakovich Tjellokonsert (op veertienjarige ouderdom). Dit maak hom waarskynlik een van die wêreld se jongste tjelliste wat al hierdie grootskaalse werke saam met orkes uitgevoer het.
In 2009 en 2012 word hy gekies as een van die “Young Talents” by die derde en sesde Cartagena International Music Festival. Hy is toegelaat om, ten spyte van sy jeugdige ouderdom, deel te neem aan die vyfde Carlos Prieto International Cello Competition in Meksiko (elf jaar), die sewende Adam International Music – Cello Competition (NS) (dertien jaar) en die 2010 Beijing International Music Cello Competition (vyftien jaar), waar hy as gesamentlike wenner aangewys is. In Desember 2011 (op sestienjarige ouderdom) wen hy eerste prys in die Gisborne International Music Competition (NS), eerste prys in die National Concerto Competition (Christchurch, NS) en in Maart 2012 wen hy tweede prys in die Johansen International String Competition for Young String Players (Washington, D.C.).
Hy het al as solis saam met onder andere die Bogotá Philharmonic, Medellín Philharmonic, die National Symphony Orchestra of Colombia en die HangZhou Philharmonic Orchestra (Beijing, China) opgetree. In Oktober 2012 maak hy as solis in die Elgar Tjellokonsert sy debuut in Australië saam met die Victoria Orchestra (Melbourne).
Valencia studeer tans aan die Universiteit van Waikato onder James Tennant in ‘n spesiale nuwe ‘Soloist Stream’-program wat ontwerp is om kunstenaars met buitengewone talent te akkommodeer. Sy studies word geborg deur die Sir Edmund Hillary Scholarship.
Hy het al saam met verskeie wêreldbekende musici soos Yo-Yo Ma, Andres Diaz, Gary Hoffman, Philipe Müller, Pieter Wispelwey, Alban Gerhardt, Li Wei Qin, Franz Helmerson, Alisa Weilerstein en Wolfgang Schmidt opgetree.
Hy is in 2012 genooi om aan die VI Cartagena International Music Festival 2012 deel te neem waar hy ‘n uitvoering saam met die bekende pianis, Gloria Lin, gegee het en hy die verhoog met Alisa Weilerstein, Christopher Costanza en Jesus Castro-Balbi gedeel het. Santiago het sy eerste CD met solowerke van Kodaly, Ginastera, Ligeti en Cassadó opgeneem.
Dias is in Fafe (Portugal) gebore en het ná privaat klavierlesse aan die Academia de Musica Ventim Moreira de Sá in Guimarães studeer. In Suid-Afrika studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy sy BMusHons (cum laude) met spesialisering in klavier voltooi. In 2005 studeer hy verder onder die bekende pianis en pedagoog, Konstantin Scherbakov, by die Hochschule für Musik und Theater in Zürich (Switserland), waar hy sy konsertdiploma met lof behaal.
In 2007 word hy vokale afrigter, begeleier en repetiteur by Kaapstad Opera en vestig hom permanent in Suid-Afrika. Hy het onlangs sy voltydse pos daar laat vaar om as vryskutpianis te werk.
In 2011 het José ingeskryf vir ‘n PhD aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van proff. Francois du Toit en Hendrik Hofmeyr. Kort daarna is hy aangewys as wenner van die gesogte Olive Lieberz-Theron-prys vir uitstaande klavierspel by die SA Kollege vir Musiek.
Behalwe vir gereelde solo-uitvoerings en ‘n steeds groeiende vraag na sy dienste as pianis en kamermusikus, gee hy gereeld uitvoerings saam met orkeste en het hy al saam met dirigente soos Corvin Matei, Xandi van Dyk, Erns Conradie, Young Kyu Song, Christopher Dowdeswell en David Tidboald gewerk. Hy het ook reeds meesterklasse van Barbara Doria, Ella Fourie, Joseph Stanford, Anton Nel, Vladimir Viardo en Alexei Lubimov ontvang.
Kaartjies vir die konsert kos R130 (volwassenes), R90 (pensioenarisse), R50 (studente en leerders) en R50 (groepbespreking van 10+) by Computicket. Vir meer inligting kontak Ninette Pretorius by 051-401-2504.