Breyton Paulse glo Cheetahs kan Bulls klop

0
374

Owen Kock

Bloemfontein. – Dit is glad nie ‘n onmoontlike taak vir die Toyota Cheetahs om Saterdag as oorwinaars van die veld te stap in hul wedstryd teen die Bulls nie.

Dit is die mening van die voormalige Springbok en Stormer-vleuel Breyton Paulse.

Het vandag aan Courant gesê die Cheetahs speel op die oomblik die beste rugby van die Suid-Afrikaanse spanne in die Super Reeks, en hulle moet hou by wat tot dusver gewerk het wanneer hulle Saterdagaand kragte meet met die Bulls in die Vrystaat Stadion.

“Ek dink hulle het hulself oortref met die uitslae wat hulle tot dusver vanjaar gekry het. Dit beteken dat spelers meer selfvertroue begin kry het en sodoende deurgekom het.

“Ek dink byvoorbeeld aan ‘n speler soos Lood de Jager…wie het ‘n jaar gelede geweet wie Lood de Jager is?… hy is een van die spelers wie mense deesdae van praat,” het Paulse bygevoeg.

Hy het ook die name van Lappies Labuschagne, Heinrich Brussouw en Philip van der Walt genoem.

“Brussouw is weer sy ou self en daarby onderskat mense ‘n speler soos Van der Walt wat soveel vir die Cheetahs doen.”

Paulse het benadruk dat daar vanjaar soveel rekords in Super Rugby verbeter is, dat hy wil glo die Cheetahs kan die Bulls in Bloemfontein klop.

“Die Cheetahs gaan so gefokus wees vir die wedstryd, maar weer eens, teen die Bulls is dit nooit maklik nie. Die Bulls het per slot van sake ‘n goeie rekord in Bloemfontein en dit gaan alles afhang van hoe gefokus die manne gaan wees,” het Paulse gesê.

Hy glo dat Elgar Watts (losskakel) en Robert Ebersohn (senter) hand sal moet opsteek en die span op die voorvoet hou, saam met Adriaan Strauss (haker en kaptein), wie hy glo in die stadium die speler van die seisoen is.