Breytenbach wil vlerke as atleet wyer span

0
Breytenbach wil vlerke as atleet wyer span

GEORG VAN ECK

Twee Kovsie-atlete wat mekaar gaan ondersteun en aanmoedig op die Nedbank nasionale kampioenskappe vir atlete met liggamlik en visuele gestremdhede later vandeesmaand in Pretoria, is: Danie Breytenbach en Louzanne Coetzee (oor wie Courant verlede week berig het). Die twee wat sterk op die voorgrond getree het, was albei oud-leerlinge aan die Pionierskool vir Blindes op Worcester en studeer tans aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hulle is oefenmaats by Rufus Botha, atletiekafrigter van Bloemfontein, wat al verskeie nasionale kampioene afgerig het.
Die 18-jarige Breytenbach wat in die T-11 klas meeding, het op skool aan landloop begin deelneem en is ’n middelafstand-atleet wat sy merk gemaak het. Hy is die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 800 meter vir mans o.20 en gaan op die nasionale kampioenskappe sy vlerke wyer span.

Eerstens wil hy sy eie nasionale rekord van 2:24.0 verbeter, maar gaan ook aan die 400 en 1 500 deelneem.
Breytenbach se taak word vergemaklik omdat hy op ’n bekwame gids, die 43-jarige Barry Williams, kan staatmaak.
Williams is ’n oud-rugbyspeler en ’n Vrystaatse meestersatleet wat met goue medaljes in die 800m en 1 500m spog.
“Ek hardloop ongelooflik lekker saam met Barry. Hy waarsku my presies op die regte tyd as daar hindernisse is wanneer ons padwerk doen en hy motiveer my die hele pad as ons oefen en hardloop,” verduidelik Breytenbach.
Botha is vol vertroue dat Breytenbach oor die talent en vermoë beskik om te presteer.

“Ons mikpunt is dat Danie ook sy beste tyd van 64.37 in die 400 moet verbeter. Hoewel hy korter afstande verkies en nou die eerste keer aan die 1 500 gaan deelneem, beskik hy oor genoegsame uithouvermoë om te presteer. “Indien Danie se opwaartse peil teen die huidige tempo voortgaan, kan ek nie sien hoekom hy nie Suid-Afrika in die 800m op die Paralimpiese spele in 2016 in Rio kan verteenwoordig nie,” voorspel sy afrigter. Breytenbach, ’n Oos-Vrystater van Bethlehem en ’n trotse inwoner van die die nuwe koshuis Con Laurés op die Kovsie-kampus, gaan gewis alles in sy vermoë doen om die vertroue wat in hom gestel word gestand te doen.

No posts to display