Brandwag-inwoners moeg vir studentehuise

0
770

Inwoners van Brandwag is raadop met die groot klomp studenthuise wat oornag in die woonbuurt opskiet. Een van die inwoners, wat anoniem wil bly, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle, net soos die mense van Dan Pienaar, net hul buurt wil terughê.

Hy het verder verduidelik dat studentehuise inderwaarheid ook besighede is en dat hy wonder of dié huise by die munisipaliteit geregistreer is. Hy sê die eienaars van die huise bou gedurig kamers aan om meer studente te kan akkommodeer. Daarmee saam kom heelnag se geraas en vullis wat ophoop. “Die huise is gebou vir ‘n huisgesin van sowat vier mense, maar nou stop die eienaars vyftien studente in die huis en alles word oorlaai.”

Volgens die Mangaung-metromunisipaliteit (MMM) se woordvoerder, Qondile Khedema, is die munisipaliteit tans besig met die samestelling en finalisering van die munisipale regulasies oor studente-akkommodasie. Khedema verduidelik dat kennisgewings uitgestuur is oor die nie-nakoming van die regulasies oor grondgebruik. Boetes sal opgelê word ooreenkomstig dié regulasies.

Op die vraag op waar inwoners klagte kan lê, het Khedema gesê kontak kan gemaak word met die bestuurder van implementering van die munisipale regulasies by 082-651-3925.
Intussen het die Universiteit van die Vrystaat (UV) diensverskaffers buite kampus (off-campus) in Bloemfontein, wat akkommodasie aan studente bied, genooi om aansoek te doen vir akkreditasie.

Luidens ‘n verklaring is die besluit om buite-kampusakkommodasie-diensverskaffers te akkrediteer geneem vir die veiligheid van studente en te verseker dat die omstandighede waarin die studente woon gunstig is. Die akkreditasieproses behels ‘n lys van primêre vereistes wat opgestel is met die medewete van die MMM in terme van akkommodasie buite die kampus, waaraan private verskaffers moet voldoen om deur die universiteit geakkrediteer te word.

Die verklaring lui verder dat verhuurders en agentskappe ook aangeraai word om meer betrokke te raak by hul studentehuise en om te verseker dat hul eiendom in ‘n goeie toestand is. Verskaffers van akkommodasiedienste buite die kampus het tot 6 Desember 2019 (Vrydag) om aansoek te doen vir akkreditasie. Meer inligting en aansoekdokumente vir die akkreditasie kan gekry word deur ‘n e-pos te stuur na tyhalitip@ufs.ac.za of deur President Steyn Annex, kantoor 128, te besoek.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za