Op die oog af lyk Devon Jacobs, ‘n graad 8-leerder van Hoërskool Staatspresident Swart in Brandfort, maar na ‘n skamerige outjie, maar volgens diegene wat hom al op die rugbyveld gesien het, is dit alles behalwe die geval as hierdie senter eers daai ovaalvormige bal in sy hande het.
Jacobs is pas gekies as een van twee seuns uit die Vrystaat wat die land in Desember in Portugal sal verteenwoordig as hulle aan ‘n sewesrugbytoernooi in Lissabon gaan deelneem.
Eugene Maddocks, afrigter van die o.14-Bokkieweek-seunsrugbyspan, het Jacobs gekontak kort nadat hy in Junie van die 2015 VKB-rugbyweek in Frankfort teruggekeer het om te hoor of hy nie as deel van die Vrystaatspan aan die nasionale Bokkieweek in Pretoria kon deelneem nie.
“Ek was heel verbaas, want ek het pas teruggekom van ‘n rugbytoer en ek het geweet finansieel sou dit vir my ma moeilik wees om nóg ‘n toer te bekostig. Mnr. Maddocks het vir my gesê ek hoef nie te bekommer nie en dat hy ‘n plan sou maak,” vertel Jacobs.
By die Bokkieweek is hy aangewys as die beste speler in sy posisie en is toe vir die Suid-Afrikaanse o.14-sewespan gekies.
“Dit is vir my ‘n groot eer en ek hoop om eendag ‘n professionele sportman te kan wees.”
Maddocks sê sover sy kennis strek, is dit die eerste o.14-seun uit die Vrystaat wat dié prestasie bereik. “Devon speel ontsettend goeie rugby en het ook die trofee gekry vir die speler wat die meeste drieë gedruk het tydens die toernooi wat in Pretoria gehou is. Tien provinsies se spanne het aan die toernooi deelgeneem.”
As ons oor rugbyhelde praat, sê Jacobs skamerig: “Ek het nie regtig groot rugbyhelde nie, natuurlik is ek ‘n groot Cheetah-ondersteuner, maar as daar iemand is in wie se spore ek graag sal wil volg, is dit my neef, JC Pretorius. Hy is tans in matriek in Middelburg en is binnekort moontlik vir die Blitsbokke gekies kan word. Hy sal volgende jaar vir die Blou Bulle se o.19-span uitdraf.”
Oor sy komende oorsese toernooi sê hy dat hy nie soveel gemoeid is met die feit dat hy vir die eerste keer in die buiteland sal speel nie, maar eerder dat hy sy land daar sal kan verteenwoordig.
Jacobs, sy ma en afrigter is tans hard aan die werk om geld in te samel om hierdie droom vir hom te probeer bewaarheid. Enige persoon wat betrokke wil raak of hul ondersteuning wil bied, kan Maddocks kontak by 082-551-4786 of eugenemaddocks@vodamail.co.za vir meer inligting. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za
Date:
Brandfort-seun gekies vir SA sewespan
Devon Jacobs tydens Bokkieweek in Pretoria.