Brand by stadsaal pootjie Courant byna

0
2249

Dit was so hittete of Bloemfontein se gunsteling-weekblad, Bloemfontein Courant, het nie vandag op straat verskyn nie!
As dit nie was vir die toegewyde span by PaarlColdset in Henrystraat, waar Courant elke Woensdagaand met groot sorg gedruk word nie, sou lesers waarskynlik veel langer moes wag vir hul koerant.
Die verwoestende brand wat gistermiddag laat by die Bloemfonteinse stadsaal uitgebreek het en ‘n groot deel van die gebou in puin gelê het, het ook ‘n invloed gehad op bedrywighede by PaarlColdset, wat net ‘n paar meter daarvandaan geleë is.
Nie net het die dik bol rook wat by die dak van die stadsaal uitgeborrel het, na die drukkery se perseel verprei nie, maar volgens die nuusdiens Netwerk24 het van die Numsa-lede wat van die brandstigting verdink word, ook by die gebou ingehardloop om van die polisie weg te kom.
Dié situasie het tot kommer by PaarlColdset se bestuur gelei oor die veiligheid van hul personeel, en die bestuur het in ‘n stadium oorweeg om die druk van Courant en ander produkte uit te stel.
Toegewyd aan hul taak om nuusprodukte betyds aan die lesersgemeenskap van Bloemfontein te bring, het hulle egter deurgedruk om die koerante gedruk te kry, ondanks die moeilike omstandighede.
Bloemfontein Courant bedank die bestuur van PaarlColdset vir die deursettingsvermoë wat hulle aan die dag gelê het om te verseker dat die lesers hul koerant betyds kry. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za