Die brand wat dié week byna die Bloemfonteinse stadsaal in puin gelê het, is vir baie inwoners van die Rosestad ‘n bitter pil om te sluk.
Die brand het onstaan nadat ontstoke munisipale werkers ‘n vergadering in die stadsaal gehad het, en die saal daarna begin brand het.
Die stadsaal, wat sedert 1935 al staan, was eens ‘n mooi prentjie om na te kyk, maar al wat nou oorbly, is die herinneringe.
Bloemfontein Courant het met ‘n paar mense gesels om te hoor hoe hulle oor hierdie situasie voel.
Dr. Mercia Coetzee, van die Vrystaatse Universiteit, is baie onsteld. “My eerste reaksie was ongeloof. So iets behoort nie te gebeur nie. Vir my het dit soos die dood gevoel. Jy weet – daardie hoop tot op die laaste dat iemand dit sal keer en dat die brand net minimale skade sal aanrig.”
Toe sy die skade en verwoesting sien, was sy woedend. Sy prober om te verstaan dat mense kwaad is, maar in haar wildste drome kan sy nie verstaan hoekom hulle so ‘n waardevolle gebou kon afbrand net om hul gevoelens te wys nie.
“Ek het jare lank ‘n kantoor in die stadsaal gehad, ek het elke hoekie van die gebou geken. Daar was soveel waarde en soveel geskiedenis in die gebou. Ek praat nie eens van die prag en status van die gebou nie!”
Annie Setlhahuno, ‘n werknemer van MFI in die stad, sê haar hart is “galbitter” seer. “Ek weet nie wat die mense besiel het om dit te doen nie. Ek het Woensdagaand heelnag wakker gelê oor hierdie kwessie. Ek kon nie slaap nie.”
Sy sê sy het tot die Here gebid en gevra hoekom die dinge gebeur. Sy het gebid dat dit moet ophou. “Ons is ‘n swak voorbeeld vir die jeug. Wat van ons kinders? Hulle gaan nie die mooi kan sien wat hier was nie.”
Sy meen ook die mensdom lewe glad nie volgens die Here se wil nie. “My hart is rêrig baie baie seer!”
David Ian Stofberg glo om ‘n oplossing vir die situasie te vind, moet die skuldiges eers opgespoor word. “Was dit regtig die munisipale werkers wat die brand begin het, of was daar ‘n derde party betrokke?” vra Stofberg.
“Al weet ons die stadsaal sal nooit weer dieselfde wees nie, hoop ons vir ‘n spoedige herstel van die historiese gebou.”
Jeretha Oosthuizen – Courant News