Die oorsaak van die brand wat vanoggend in die Pacofs-gebou se kelder in Bloemfontein uitgebreek het, is nog onbekend. Die brand het vermoedelik teen 07:00 uitgebreek in ‘n kamer waarin groot industriële batterye gestoor word. Dié reuse-batterye word tydens kragonderbrekings ingespan om elektriese lig te verskaf. Die Mangaung Brandweer- en Reddingsdienste se Braam van Zyl sê die brand is onder beheer, maar nog nie geblus nie. Hy sê die brandweer word deur tegniese beamptes van die Mangaung-metro se elektrisiteitsafdeling ondersteun weens die gevaarlike aard van die situasie. Die water wat gebruik word om die brand te blus kan moontlik ‘n kortsluiting veroorsaak. Dit is ook donker in die kelder en rook bemoeilik die betrokkenes se taak.
Van Zyl sê niemand word in dié Pacofs-gebou, asook die nabygeleë Fidel Castro-gebou, toegelaat nie. Die geboue is vanoggend ontruim. Strate in die gebied is ook vir verkeer gesluit. Woordvoerder van die Departement van Openbare Werke in die Vrystaat, Mlungisi Maqubela, het vroeër aan Bloemfontein Courant gesê niemand is in die brand beseer nie. Hy het bevestig dat albei geboue vir die dag ontruim is weens die gevaar wat giftige gasse inhou. Die Pacofs-gebou sluit die Sand du Plessis-, die André Huguenet- en die Down Stage-teater in.
Bloemfontein Courant was vanoggend op die brandtoneel. Honderde werknemers het buite die geboue op die Macufe-parkeerterrein saamgedrom. – Christal-Lize Muller