Die Matjhabeng-munisipaliteit se assistent-hoofbrandweerbeampte, Francois Klaassen, sê die vlamme is kort voor 10:00 geblus.
Lede van die brandweer is in die proses om water op die transformator wat gebrand het te spuit as deel van die afkoelingsprosedure.
Klaassen sê dit is nog onduidelik wat die brand veroorsaak het, maar daar word vermoed dat ‘n kortsluiting by die transformator ‘n ontploffing veroorsaak het wat daartoe gelei het dat 20 000 liter olie in die transformator aan die brand geslaan het.
Hy sê die brandweer is vanoggend omstreeks 06:30 ontbied na die substasie wat elektrisiteit aan die hele Virginia verskaf.
Meer as 20 lede van die brandweer het gesukkel om die vlamme te blus, omdat daar nie genoegsame beskikbare water by die substasie beskikbaar was nie. Brandweerwaens met watertenks moes verskeie kere in Welkom gaan volmaak. ‘n Private maatskappy van Welkom, wat water in 20 000 liter tenks kan vervoer, het later kom help.
Niemand is in die brand beseer nie. – Christal-Lize Muller