OWEN KOCK
Die naam Bram Fischer is vanjaar al aan minstens twee projekte gekoppel, en nou het ’n derde bygekom.
Die Bloemfontein Internasionale Lughawe heet nou Bram Fischer Internasionale Lughawe, ná dit verlede week in die Staatskoerant aangekondig is.
Volgens ’n mediaverklaring deur die Lughawens Maatskappy van Suid-Afrika, spruit die naamsverandering uit ’n aankondiging deur president Jacob Zuma oor die kwessie in sy staatsrede vroeër vanjaar.
Die naamsverandering volg kort voor die regerende party se 52ste Beleidmakende Kongres tussen 16 en 21 Desember in Manguang, wat beteken dat besoekers aan die Rosestad voortaan deur die vryheidsvegter begroet word as hulle van die vliegtuig afklim.
Die ander projekte wat aan dié vryheidsvegter gekoppel is, is die nuwe boek, ‘n Seun soos Bram – ‘n Portret van Bram Fischer en sy ma Ella deur dr. Hannes Haasbroek en die toneelstuk, Die Bram Fischer-wals wat vanjaar op die Vryfees te sien was.
Maar wie was Bram Fischer?
Abram Louis Fischer, is 23 April 1908 in Bloemfontein gebore en het hier op 8 Mei 1975 gesterf. Hy was ’n prokureur en ’n anti-apartheid aktivis en deel van die regspan in die Nelson Mandela Rivonia-verhoor en is wyd beskou as ’n sleutelfiguur in die stryd om bevryding.
Nelson Mandela het geskryf Fischer was een van die dapperste vriende van die vryheidstryd wat hy geken het.
In Country of My Skull, het Antjie Krog geskryf hy was soveel meer braaf as die res van hulle, soveel so dat hy met sy lewe geboet het. Fischer het in 1967 die Lenin Vredesprys ontvang. In 2003 het Fischer die eerste Suid-Afrikaner geword om na sy dood tot die Balieraad, heringestel te word.
Die New College (Universiteit van Oxford), waar Fischer ’n student was, hou jaarliks die Bram Fischer Gedenklesing ter nagedagtenis van sy nalentskap.
Fischer se pa Percy was ’n Regter President van die Oranje Vrystaat en sy oupa Abraham Fischer, ’n premier van die Oranje Rivier Kolonie en later ’n lid van die kabinet van ’n verenigde Suid-Afrika.
Voor hy aan Oxford Universiteit se New College studeer het, was hy ook ’n student aan Rhodes tydens die 1930’s, en het sy skool loopbaan aan Grey Kollege en Grey Universiteit-kollege in Bloemfontein voltooi. Hy was ’n inwoner van Huis Abraham Fischer wat na sy oupa vernoem is.
In 1937 het Fischer met Molly Krige, ’n niggie van Jan Smuts getrou en die paartjie het drie kinders gehad. Molly het self by politiek betrokke geraak en was aangehou sonder ’n verhoor in die noodtoestand wat ná die Sharpeville slagting aangekondig is.
In die 1940’s het Fischer by die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party aangesluit en vinnig opgang as leier gemaak. Die SAKP het ’n goeie verhouding met die ANC gehad en in 1943, was Fischer ’n mede-skrywer van die hersiende grondwet van die ANC.