Braaivleis Tunes ondersteun Bfn-kunstenaars

0
630
Aanbieder Eddie Collin en gaskunstenaar Jeantê Botha, met die aanbieding van Braaivleis Tunes.

Iets waarna Bloemfonteiners kan uitsien, is die nuwe virtuele aanbieding, Braaivleis Tunes, ‘n program wat deur VirtualTech, ‘n tegniesedienste- en produksiemaatskappy in Bloemfontein, geskep is weens die Corona-omstandighede en spesifiek daarop fokus om kunstenaars in die pandemietyd te ondersteun.

Volgens die eienaar van VirtualTech, Johan Coetzee, is Braaivleis Tunes
`n lekker musiekgeselsprogram waar die aanbieder, Eddie Collin, plaaslike kunstenaars beter leer ken.

Elke episode is gevul met ongelooflike stories, musiek en baie lag. Dit is `n twee-uur-program waarin Collin die aand begin met `n liedjie of twee en dan ‘n bietjie met die gaskunstenaar gesels. “Die gaskunstenaar kry dan `n geleentheid om vir so 40 minute op te tree,” vertel hy.

Omrede die program spesifiek daarop gefokus is om kunstenaars te help, verskyn die gaskunstenaar se bankbesonderhede ook op die skerm en hoop en vertrou Collin dat mense die spesifieke kunstenaar sal ondersteun by wyse van ‘n donasie.

Hy vertel verder dat die braaivleisvuur heeltyd brand en dat daar selfs ‘n vleisie tussendeur gebraai word. Die idee het by hom opgekom toe hy op ‘n Saterdagaand by ‘n gesellige vuurtjie gesit het en besef het al wat kort is musiek. Dit het uitgeloop op Braaivleis Tunes wat lewend gestroom word uit sy lapa.

Kunstenaars kan Coetzee kontak by 083-289-3235 of `n e-pos stuur na info@virtual-tech.co.za om deel te wees van die vertoning. Hulle kan ook VirtualTech se Facebookblad besoek om hoogtepunte van episodes te sien. Op die oomblik saai hulle elke tweede Saterdag uit van VirtualTech Sound se Facebookblad, asook binnekort op YouTube.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za