Botteltuine in Bloem vir voedselsekerheid

0
1111
Voedselsekerheidaktivis, Thabo Olivier, spog met sy botteltuin

Thabo Olivier, voedselsekerheidaktivis en inwoner van Bloemfontein, het nóg ‘n manier gevind om die plaaslike bevolking te help met voedselsekerheid deur gebruik te maak van herwinde produkte.

Olivier het sy reis ‘n paar jaar gelede begin toe hy as raadslid vir die stad verkies is en ‘n behoefte aan voedsel in verskillende gemeenskappe in die stad opgemerk het. “Lede van die gemeenskap het vir my gesê dat hulle honger is. My antwoord was, kweek groente. Toe hulle sê hulle weet nie hoe nie, het ek besef dis maklik, want ons voorvaders het dit vir jare gedoen,” sê Olivier.

Aangesien ‘n kwekery ‘n duur storie kan wees, het Olivier ‘n goedkoper en omgewingvriendelike manier gevind om dinge te doen waarby almal uit verskillende gemeenskappe kan aanpas.

Hy is In 2014 aangewys as “Groenste Raadslid” in Suid-Afrika en doen elke jaar iets nuuts om lede van die gemeenskap meer te leer oor voedselsekerheid en nuwe maniere om vir hulself te sorg met kos uit hul eie tuine.

Twee jaar gelede het Olivier botteltuine aangepak, dit om baie redes. Dit is maklik om ‘n groot sukses van te maak. “Jy maak gebruik van afval en herwinde produkte, wat goed is vir die omgewing.”

Hy vertel hoedat hy begin het deur brandrissies (chillies) in bottels te kweek omdat hy sy eie organiese pesdoder maak. Toe dit uitloop op ‘n groot sukses, het hy besluit om allerlei ander dinge te probeer – van tamaties tot kruie.

Botteltuine het ‘n verskeidenheid voordele soos die besparing van besproeiingswater en om tuin te maak op alle verdiepings van onder meer woonstelblokke en hoë geboue. Olivier het reeds sy eerste video op YouTube geplaas oor hoe om tamaties in ‘n bottel te groei, en dit in Sesotho. Hy deel ook binnekort sy geheim oor hoe om saailinge in eierdoppe te kweek, alles planne wat lei tot ‘n groener en goedkoper manier om jou tuinreis te begin. Kyk na Olivier se video’s op YouTube onder Lets Grow Food vir meer.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za