Botha sluit kontrak met Poubloues

0
732
Janu Botha FOTO: VARSITY CUP

Die vaskopstut van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Ixias, Janu Botha, is beloon vir sy goeie vorm in die huidige Varsitybeker wat in Pretoria gespeel word.

Botha, wat voorheen ook die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas verteenwoordig het, is deur die Tafel Lager Griekwas gekontrakteer.

Botha sal hom by die Poubloues aansluit na afloop die Varsitybeker en sal tot aan die einde van volgende jaar vir die span van die Noord-Kaap speel.

Die afrigter van Griekwas, Scott Mathie, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle daarna uitsien om die voorryman te verwelkom.

“Dit is wonderlik dat Janu by ons sal aansluit. Hy speel al ‘n geruime tyd sy rugby in die Varistybeker en hy begin om die vrugte te pluk van al sy harde werk, veral sy werk tydens vanjaar se toernooi. Ons dink dat dit nou die regte tyd is vir hom om ‘n kans te kry op die volgende vlak.

“Ons sien daaraan uit om hom aan boord te kry. Ek dink dat hy baie energie sal bring en hy het baie potensiaal met sy skrumwerk.”

Intussen word sy ouer broer, Dolf Botha, verbind met ‘n Franse D2-klub. Dolf is op sy beurt ‘n loskopstut en het ook vir die Shimlas in die Varsitybeker gespeel. Hy het ook al vir die Vrystaat en Shimlas gespeel, terwyl hy ook al ‘n draai in die VSA gemaak het waar hy vir die San Diego Legion en New England Free Jacks gespeel het. – MORGAN PIEK