Born in the RSA in Bloem op die planke

0
522

Born in the RSA, gebaseer op die lewe self, werp ‘n blik op die wreedhede van die apartheidsregime. Dié doku-drama is ‘n ware weergawe van werklike karakters wat vasgevang was in die noodtoestand van 1985. Die toneelstuk fokus op politieke gebeure wat die persepsie uitdaag dat in ons gemeenskap slegs diegene wat onderdruk word, slagoffers is. Die gehoor beleef en luister na die persoonlike getuienis van mense wat in die kruisvuur gestaan het. Die verweefde stories van die sewe karakters skets ‘n intens-grusame beeld van die apartheidsregime en die Suid-Afrikaanse Polisiediens se taktieke: skuld deur assosiasie, onverwagse inhegtenisneming, sloer-ondervraging en gedwonge skuldbekentenisse deur marteling.

Glen Donahue (Magnus Mc Phail) is ‘n gegradueerde van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en al spel wat vir hom tel, is verraad. Glen word goed deur die Polisie betaal om op “moeilikheidmakers” te spioeneer. Hy gee nie om om mense nà aan hom te ontbloot nie, solank hy net behoorlik vergoed word. Dit word duidelik wanneer hy ‘n stomende verhouding met Susan Lang (Marle Visagie) aanknoop bloot om op haar te kan spioeneer. Susan, ‘n kunsonderwyseres, word heeltemal deur Glen se sjarme oorrompel. Haar merkwaardige karaktereienskap van lojaliteit aan die bevrydingsbeweging is deurgans duidelik, alhoewel sy skynbaar glad nie geaffekteer word deur die feit dat sy Glen se minnares is nie. Nicky Donahue (Imke Reineke), Glen se vrou, is goedhartig teenoor swartmense, maar verkies om nie na stories te luister oor hoe swartes onder apartheid ly nie.

Sindiswa Ngube (Keketso Tsiane en Petunia Kgotlhe), ‘n swart onderwyseres, is aan geen misdaad skuldig nie buiten dat sy die suster is van die vakbondleier, Thenjiwe (Dieketseng Dlamini), met wie Susan haar assosieer. Sindiswa se straf is die inhegtenisneming van haar tienjarige seun op vals aanklagte. ‘n Afrikaner-aktivisprokureur, Mia Steinman (Rona van Blerk), se loopbaan word beïnvloed deur politieke aktviste soos Braam Fischer, Nelson Mandela en Oliver Tambo. Van kindsbeen af is Mia blootgestel aan verskillende mense wat haar ouerhuis besoek het en al waarin sy belangstel is gelyke regte vir almal.

Die sagmoedige musikant Zack Melani (Che Keet) is so ontsteld oor die wrede behandeling van sy vriend se kind in die gevangenis, dat hy tot sy eie ontsteltenis meedoënloos gedrewe voel om “die swart King Kong” te word wat witmense vrees hy is. Wanneer hy daaroor fantaseer om die skedels van wit skoolmeisies te vermorsel, sien die gehoor hoe wreedheid wreedheid baar.

Born in the RSA word drie dae lank, van 28 tot 31 Oktober om 19:30, in die Scaena-teater opgevoer. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Prys: R 40.00 vir volwassenes / R 30.00 vir studente of skoliere / R 25.00 vir pensionarisse of groepe van 10 of meer