Bokspan onveranderd vir openingswedstryd

0
156
Die oud-Cheetahs-losvoorspeler, Duane Vermeuelen, in aksie vir die Springbokke teen die All Blacks tydens die halfeindronde van die 2015-Wêreldbeker in Engeland. Die Springbokke is op dié dag op Twickenham met 20-18 verslaan. FOTO: GETTY

Die Springbokke se 2019-Rugby Wêreldbeker-veldtog in Japan skop Saterdag af wanneer hulle die ou-vyand, Nieu-Seeland, in Yokohama die stryd aansê.

Die Bokke is al ‘n geruime tyd in die Verre Ooste en het onlangs die gasheer, Japan, met ‘n telling van 41-7 in Tokio gewys wie is baas.

Die breier, Rassie Eramus, het dieselfde span wat vir Japan ore aangesit het, gekies vir Saterdag se grote teen die verdedigende Wêreldkampioene.

Dit is ook dieselfde span wat in Julie met 16-elk in Wellington gelykop gespeel het teen die All Blacks. Die enigste verskil in die span is dat Kwagga Smith sy plek in die span kwyt is weens die terugkeer van die kaptein, Siya Kolisi.

Dit sal die losvoorspeler, Duane Vermeuelen, se 50ste toets in die groen-en-goud wees.
Saterdag se groot Wêrelbeker-wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks skop om 11:45 af.

Springbokke – 15 Willie le Roux, 14 Cheslin Kolbe, 13 Lukhanyo Am, 12 Damian de Allende, 11 Makazole Mapimpi, 10 Handre Pollard, 9 Faf de Klerk, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff.

Plaasvervangers – 16 Bongi Mbonambi, 17 Tendai Mtawarira, 18 Trevor Nyakane, 19 RG Snyman, 20 Francois Louw, 21 Herschel Jantjies, 22 Frans Steyn, 23 Jesse Kriel. – MORGAN PIEK