Bokflank beseer in Cheetah-nederlaag

0
Bokflank beseer in Cheetah-nederlaag

Georg van Eck

“Ons is teleurgesteld oor die verloor, maar glo nie die eindtelling weerspieël wat in die wedstryd gebeur het nie.”
Só het Hawies Fourie, agterlynafrigter van die Toyota Cheetahs, ná sy span se 32-10 nederlaag teen die Vodacom Bulls in ’n opwarmingswedstryd in Polokwane sake in ’n neutedop opgesom.
’n Groot terugslag het die span ook getref deurdat die Springbok-kantman, Juan Smith, weer sy hak beseer het. “Ons sal eers vandeesweek weet hoe ernstig dit is,” het Fourie gesê.
Die Toyota Cheetahs begin hul 2013 aanslag in die Super 15-reeks aanstaande Saterdag om 17:05 tuis in die Vrystaat-stadion teen die Sharks.
Die lynstane is die saak wat ongetwyfeld die meeste aandag in die Toyota Cheetahs se finale voorbereiding sal geniet.
“Ons het vier lynstane afgestaan waarvan een tot Francois Hougaard se breekslag en ’n drie vir hulle gelei het. Lynstane is die beste eerste fase-besit om van aan te val en ons het hier gesukkel, want soms is die bal ook geklap,” het Fourie verduidelik.
Die tweede weggee-drie was ook ná ’n fout deur die Cheetahs by ’n loskrum en dit was die grootste verskil tussen die twee spanne.
Die Toyota Cheetahs het goed geskrum en sterk verdedig. “As die hoeveelheid balbesit wat die Bulls gehad het in aanmerking geneem word, was ons verdediging goed,” het Fourie gesê.
Die Toyota Cheetahs se agterlyn is ook op die laaste nippertjie ontwrig deur Robert Ebersohn se onttrekking weens ongesteldheid (virus). Barry Geel het by hom oorgeneem. “Barry het onder die omstandighede goed gevaar, maar ek voel hulle het te veel momentum in sy kanaal gekry. Ek is baie tevrede met Johann Sadie se spel op buitesenter,” het die afrigter verduidelik.
In die voorbereidende wedstryde het die Toyoya Cheetahs een van drie wedstryde gewen en spelers is goed beproef, opgeweeg en gesif.
Punte: Bulls 32 (7). Drieë: Dewaldt Potgieter, Swys Venter, Lionel Mapoe, Jürgen Visser. Doelskoppe: Morné Steyn (2). Strafdoele: Steyn (2). Toyota Cheetahs 10 (0). Drieë: Raymond Rhule, Johann Sadie.
Ander uitslae: Sharks 71 Luiperds 8; Stormers 57 Boland-Kavaliers 0; Goue Leeus 41 Southern Kings 31.

No posts to display