Die talentvolle broer-en-suster duo, Jayden (10) en Miané (9) Delport van Bloemfontein, is onlangs raakgesien tydens die Show Me Your Talent-kompetisie in Johannesburg.
Die kompetisie, wat jong talent van regoor die land aantrek, het hierdie jaar ’n besonderse hoogtepunt vir die Delport-gesin geword.
Jayden het met agt goue medaljes in dans weggestap, terwyl sy suster, Miané, nege goue medaljes in modelwerk gewen het. Hierdie uitstaande prestasies het aan hulle die geleentheid gebied om Suid-Afrika volgende jaar in New York te verteenwoordig.
“Dit was vir my ongelooflik lekker om deel te neem en al die medaljes te wen,” het Miané opgewonde gesê. Jayden, wat ook oor sy ervaring gesels het, het gesê: “Ek is net bly dat ek vir my ouers kan wys dat ek goed genoeg is.”
Die gedagte om Suid-Afrika op ’n internasionale verhoog te verteenwoordig, het die twee jong sterre baie opgewonde gemaak. “Ons kan nie wag om New York toe te gaan nie,” het hulle gesê.
Hulle sien veral uit daarna om die beroemde Statue of Liberty te sien en om ’n nuwe land te verken.
Hul ma, Carolize Delport, het gesê sy is ongelooflik trots op haar kinders se harde werk en toewyding. “Ek is net bly dat hulle hul talent kan uitleef en dat hulle trots is op hulself,” het sy gesê.
Carolize het ook genoem dat hierdie geleentheid ’n bewys is dat God elkeen van ons ’n talent gee en dat ons nie altyd weet waar dit ons sal neem nie.
Jeanrè du Preez, die eienaar van E-Models en hul afrigter, het gesê: “Om sulke jong talent by ons akademie te hê, is ’n groot voorreg. Dit is inspirerend om te sien hoe hulle met kindergeloof groot drome nastreef en dit laat my glo dat enigiets moontlik is as jy dit werklik wil bereik.”
Jayden en Miané is nou besig om voor te berei vir hul reis na New York, waar hulle hul land met trots sal verteenwoordig
Justine Fortuin