Suid-Afrika berei voor vir warmer en droër EI Niño-weerstoestande, gekoppel aan die risiko’s wat gepaard gaan met beurtkrag. Boere word gewaarsku om die nodige maatreëls te tref om teen die risiko van veldbrande tydens hierdie winter- en winderige lente-seisoen te beskerm.
“Oor die jare het ons die negatiewe impak gesien wat veldbrande op boere gehad het, in sekere dele van die land, dít terwyl hulle probeer herstel van ‘n baie moeilike tyd wat teruggaan tot die droogte van die 2015/16-seisoen,” sê Dawie Maree, Hoof van Inligting en Bemarking by FNB Agribusiness.
“Gedurende die droë seisoen kan veldbrande vinnig versprei en nie net plase nie, maar ook infrastruktuur in omliggende residensiële areas vernietig. Verder, na aanleiding van beurtkrag, is daar ook risiko’s van kragpieke wat gepaard gaan met verbruikers wat foute maak deur toestelle soos verhitters en stowe aan te laat staan, wat potensieel tot brande kan lei,” voeg hy by.
Die negatiewe nagevolge van veldbrande het in die verlede gelei tot ‘n toename in die verlies van landbouproduksie. Gevolglik het dit ook tot voedselonsekerheid vir mense en vee gelei. In sommige gevalle is toerusting beskadig as gevolg van veldbrande, wat ernstige finansiële uitdagings vir die boere meegebring het.
Ná ’n 12,3%-inkrimping jaar-op-jaar in die eerste kwartaal van 2023, moet die bedryf die nodige maatreëls tref om risiko’s te vermy wat die vertroue en groei van die sektor in die toekoms kan
affekteer. Vroeër aanduidings toon dat die aanhoudende EI Niño-weerpatroon die vooruitsigte kan vererger as dit die verwagtinge oortref.
Maree sê “langtermyn-rampbestuursplanne moet in plek gestel word om die risiko’s van veldbrande te bestuur en te beheer”. Hy beklemtoon dat dit nie net gedurende die winterseisoen moet wees nie, maar regdeur die jaar, sodat mense gewoond kan raak aan die risikobestuursmaatreëls wat plase neem om risiko’s tydens onvoorsiene omstandighede te verminder en te bestuur.
“Veldbrande is nie uniek aan Suid-Afrika nie,” sluit Maree af. “Die impak was in die verlede ernstig en het boere in ‘n moeilike situasie geplaas ná ‘n uitdagende paar jaar. Boere moet ’n proaktiewe benadering neem en verseker dat risikomaatreëls in plek is.”
Saamgestel deur Warren Hawkins