Boere dankbaar vir veevoerskenkings

0
Boere dankbaar vir veevoerskenkings

Boere van Bultfontein, wat die afgelope seisoen swaar gebuk gegaan het onder droogtetoestande, is dankbaar vir die hulp wat hulle tot dusver in die vorm van veevoer van weldoeners ontvang het. Voorsitter van die Bultfontein-distriklandbouvereniging, Herman Meiring, sê dit het sedert verlede jaar September baie min in die gebied gereën en die eerste goeie reën het eers aan die einde van April verligting gebring.

Hy sê die hergroeiproses van gras in weidingsgebiede is beperk weens die laat reën. Baie boere het noodgedwonge van hul aanteelkuddes ontslae geraak en slegs hul kernkuddes behou. Slegs 7% mielies van die sowat 86 000ha normale aanplantings in die gebied en slegs 15% sonneblom is geplant. Meiring sê die Boere in Nood-inisiatief, asook veevoer- en lekskenkings van Agri SA, Vrystaat Landbou (VL), Voermol, die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) sedert Januarie het baie gehelp.

“Dit was ‘n moeilike jaar. Dinge het skeefgeloop. Ons weet dit is die natuur. Die Here het ‘n plan met alles.” Hy bedank alle betokkenes vir hul skenkings. Meiring glo boere sal deur dié moeilike tyd kom, hulle moet net moed hou.

Pick ‘n Pay het gebottelde drinkwater aan die plaaslike gemeenskap geskenk wat swaar trek weens werkloosheid, terwyl Bearing Man in Bloemfontein blikkieskos geskenk het. Senwes skenk ook vragte mieliereste wat ook aan boere met vee op die dorp se meentgronde geskenk gaan word.

ZZ2 stel vragmotors beskikbaar wat veevoer gratis gaan vervoer vanaf gebiede waar die kos aangekoop word. – Christal-Lize Muller  

No posts to display