Top-boerboele van heinde en verre word Saterdag 16 November in Bloemfontein verwag om deel te neem aan die jaarlikse nasionale kampioenskapskou. Hierdie skou is ‘n besonderse geleentheid vir die SA Boerboeltelersvereniging (SABT), wat 30 jaar gelede gestig is om hierdie unieke Suid-Afrikaanse honderas te vestig en te bevorder.
Volgens die voorsitter van die SABT, Koos van der Westhuizen, is die skou ‘n hoogtepunt in die dagboek van boerboeltelers van regoor Suid-Afrika en ook van omliggende lande soos Namibië, Botswana reis om deel te neem. Daar is gewoonlik ook besoekers uit die buiteland, waar daar reeds honderde boerboele is. “Dit is dié byeenkoms om bietjie onder mekaar te spog en terselfdertyd van mekaar te leer”.
“Hierdie skou bied ongetwyfeld ook die beste geleentheid vir lede van die publiek om uitstekende boerboele in lewende lywe te sien en vooraanstaande telers persoonlik te ontmoet. In ‘n poging om die status van die boerboel te verhoog, moedig die vereniging telers ook aan om hulle boerboele direk by SA Stamboek onder beskerming van die Diereverbeteringswet te registreer. Dit beteken onder meer dat die stamboom van sodanige boerboel amptelik geverifieer is en dat die ouers aan bepaalde minimum vereistes voldoen.
Die nasionale skouvoorsitter, Jakkie Erasmus, se mikpunt is dat tussen 180 en 200 boerboele aan die skou sal deelneem. Hulle sal beoordeel word in klasse vanaf boerboelbabas van jonger as drie maande tot seniors en veterane van vyf jaar en ouer. Kampioene word in elke klas aangewys en die hoogtepunt van die dag is die aanwysing van die Groot Kampioenreun en Groot Kampioenteef vir 2013.
Die amptelike opening is om 09:30 en die beoordeling begin om 10:00. Die skou word by die BKB-kompleks op die Bloemfonteinse skouterrein gehou. Toegang vir besoekers is gratis en daar sal verversings by die kiosk beskikbaar wees.
Date: