Boer weer mobiel na aanval

0
5167
Mimie Jacobs en haar nuwe Ford Ranger-bakkie

Nadat die voormalige Vrystaatse Vroueboer van die Jaar, Mimie Jacobs, vroeër vanjaar wreed op haar plaas aangeval is, het die LUR vir die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, William Bulwane, aan haar ’n splinternuwe Ford Ranger-bakkie geskenk om haar te help met haar daaglikse take op die plaas.

Bloemfontein Courant het vroeër berig hoedat Jacobs wreed met messe gesteek is tydens ’n plaasaanval wat op haar plaas Rosemead, net buite Bloemfontein, plaasgevind het.

Sy is aangeval deur drie gewapende mans, maar het daarin geslaag om te ontsnap en hulp van haar buurman te kry. Jacobs vertel dat Bulwane haar drie dae na haar aanval besoek het. Sy het aan hom vertel hoedat sy te voet gaan hulp soek het na die aanval.

LUR William Bulwane,
wat die bakkie aan
Jacobs oorhandig het

Op sy vraag waarom sy so ver geloop het om hulp te kry, het sy geantwoord dat sy nie ’n voertuig het nie en dus maar vinnig moes hardloop om hulp te kry. “Hy het belowe om vir my ’n bakkie te koop, want dit is broodnodig vir ’n plaas en hy het inderdaad sy belofte nagekom nadat die bakkie aan my oorhandig is tydens ’n seremonie op die plaas op 3 November 2020,” sê sy.

Jacobs sê dat die departement die bakkie uit sy meganisasiebegroting gekoop het en sy het dit ontvang onder streng gebruiksvoorwaardes. “Die geskenk het my bemagtig. Nie net dien die bakkie goed vir die werk op die plaas nie, maar ek kan ook my werkers vervoer om hul maandelikse inkopies te doen. Hulle sukkel sonder vervoer en die openbare vervoerdiens kos hulle te veel wanneer hulle dorp toe moet gaan.”

Die bakkie is voordelig vir die hele boerdery, want daar is altyd artikels wat van die een punt na die ander vervoer moet word en is veral handig as mens groot goed moet koop. Jacobs het bygevoeg dat Bulwane sy belofte gehou het en ’n absoluut betroubare persoon is wat baie omgee vir die boeregemeenskap.

“Hy sal altyd ekstra moeite doen vir behoeftiges en nooit iets terug verwag nie. Ek is hom ewig dankbaar. Die geskenk het my in staat gestel om aan te hou doen waarvoor ek lief is sonder om bekommerd te wees oor vervoer.”

Zimasa Leputla, woordvoerder vir die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, sê dat Mimie Jacobs een van die hardwerkendste vroulike boere in die provinsie is. “Toe sy Bulwane vertel het van haar beproewing en hulle bewus was van die verlies wat sy gely het, asook dat sy sonder die luukse van ’n voertuig haar boerdery-aktiwiteite bedryf, het die LUR belowe dat die department haar met ’n voertuig sou ondersteun sodat sy weer kan opstaan,” sê Leputla.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za