Boer pak probleem lag-lag na goeie reën

0
891

‘n Mielieboer van Bultfontein in die Vrystaat is so dankbaar oor die welkome reën vandeesweek dat hy gister met blydskap in sy hart en ‘n hup in sy stap sy trekker, wat in sy nat landerye vasgeval het, uitgetrek het. Michris Janse van Rensburg het daarna op sy Facebook-blad ‘n foto geplaas waar hy en een van sy plaaswerkers spook om die trekker uit die modder te kry. Hy sê dit was ‘n droë seisoen waarin hy nie betyds mielies kon aanplant nie. Sedert September verlede jaar tot Woensdag het dit slegs 20mm gereën. Janse van Rensburg het verlede week ná ‘n bui reën van sowat 12mm ‘n kans gewaag en 60ha mielies geplant, al was dit té laat daarvoor. Na gisteroggend se bui van 40mm was daar weer hoop. Hy sê al het sy trekker vasgeval, was dié gesukkel die moeite werd.

 

 “’n Mens is amper in trane, want gewoonlik as ‘n trekker vasval, beteken dit moeilikheid.” Hy het egter nie omgegee om te sukkel nie en het met ‘n glimlag die foto van sy gesukkel met sy trekker geneem. “Dit gaan oor daai gevoel van blydskap, want nou kan ons die oorlog aanpak.” Hy sê voor die goeie bui reën gister was hy op moedverloor se vlakte. Hy het ‘n kans gewaag en mielies geplant, maar diep in sy hart het hy geweet hy maak ‘n fout. Dit gaan egter om geloof, sê hy.

 

Janse van Rensburg vertel selfs die plaaswerker wat die trekker bestuur het, was skoon verskrik oor die nat toestande, omdat hulle nie meer gewoond aan reën is nie. Hulle het later die trekker met ‘n ander trekker uitgetrek. Janse van Rensburg gaan nou sonneblom aanplant.