Boelieblik help steeds Bfn-kinders

0
862
Simone Griessel van Bloemfontein, wat sedert die begin van die grendeltyd minderbevoorregtes help.

Die Boelieblik-projek, wat sedert Februarie vir kinders in Bloemfontein uitkoms bied, het sedert sy ontstaan baie kinders se harte bly gemaak.

Volgens Simone Griessel, wat saam met haar vennoot, Tinkie Delport, dié projek begin het, gaan dit regtig goed en kan hulle die dankbaarheid wat elke kind uitstraal, nie beskryf nie.
Griessel sê hulle pak ook nou vir kinders kosblikke vir skool. “Ons het tans ± 50 kinders wat om 15:00 in die middae kom eet. Ons het ook baniere by ‘n borg gekry en gaan skole besoek om aan kinders meer te vertel oor ons projek.”

Om die projek glad te laat verloop, het hulle ‘n opslaantafel en ‘n yskas nodig om die skenkings wat hulle kry, te kan berg. “Ons kort daagliks brood, broodsmeer, joghurt, vrugte, koeldrank, ens., en ons moedig besighede aan om ons te ondersteun en mekaar uit te daag om te skenk. Ons het ook intussen geregistreer as ‘n nie-winsgewende maatskappy.”

Volgens Griessel help hulle op die oomblik net in Ehrlichpark omdat hulle nog nie genoeg skenkings wat op ‘n vaste basis inkom kry om in ander omgewings te kan begin nie.
Op die vraag of hulle al briefies vir die boelieblik gekry het, het sy geantwoord dat hulle wel briefies ontvang het, maar dat hul fondse beperk was en hulle eers onlangs hul eerste posbus/boelieblik kon oprig. “Dit het egter nie ons kinders gestop nie; hulle het sommer hul briefies per hand gaan afgee by die stasiehuis.”

Griessel het aan Bloemfontein Courant gesê dat dat hulle baie uitsien na hul Paasfees-projek, wat tans in beplaning is vir 3 April. Sy glo dat dit ‘n groot sukses gaan wees en dat die kinders dit vreeslik gaan geniet.

Mense kan Boelieblik se Facebookblad “like”: Boelieblik uitkoms vir kinders. Enige persoon wat iets wil bydra tot die projek, is welkom om Griessel te kontak by 083-310- 7886.