‘Boelieblik’ bied uitkoms vir kinders

0
712
Simone Griessel van Bloemfontein, wat sedert die begin van die grendeltyd minderbevoorregtes help.

‘n Projek om ‘n posbus of “boelieblik” in gebiede in Bloemfontein op te rig waarin kinders briefi es kan “pos”, lê reeds ‘n geruime tyd op die hart van Simone Griessel van Bloemfontein en haar vennoot in die projek, Tinkie Delport.

Die groot nood van kinders in Bloemfontein, veral in die pandemietyd, kan nie ongesiens verbygaan nie, en volgens Griessel is dit nie moontlik sonder skenkings nie. Sy het aan Bloemfontein Courant vertel ‘n deel van die projek is die oprig van ‘n boelieblik wat uitstaan en die aandag sal trek, voor sekere huise in sekere omgewings in die stad.

“Kinders moet gemaklik voel om briefi es in hierdie boelieblik te gooi waarin hulle vertel wat hul nood is, byvoorbeeld dat hulle honger is of skoene of klere benodig. Hulle kan ook vertel as hul geboelie word by die skool.” Griessel beoog om die blikke weekliks te gaan leegmaak en werk te maak van elke versoek sover dit vir hulle moontlik is.

“Meisies wat persoonlike goedjies nodig het, moet voel hulle kan ons met vrymoedigheid nader sonder ‘n telefoonoproep of om skaam te wees is. Hulle moet weet daar is altyd iemand wat kan help.” Sy beoog om mettertyd by skole dieselfde te doen en wil ook fokus op spesifieke areas.

“Ons gaan huise in gebiede uitwys en daagliks, of ten minste drie dae ‘n week, broodjies beskikbaar hê vir enige kind om te kom haal en indien moontlik ook ‘n lekker bederfi e.” Hulle beplan om te begin in Ehrlichpark, Hilton en Wilgehof. Sy noem dat hulle tydens grendeltyd die grootste aanvraag vir kospakkies in daardie omgewings gehad het. Dit het haar laat besef daar is nog hulp nodig in daardie gebiede.

Griessel het ‘n BackaBuddy-rekening oopgemaak vir hierdie projek, en wil graag maandeliks ‘n vaste bedrag of ‘n hoeveelheid skenkings ontvang. “Ons doen ‘n beroep op mense om te help en vir ons geld in te betaal vir die projek.

Ons kan dit nie sonder bydraes van die publiek doen nie.” Die uitvoerende hoof en stigter van Guardian and Angel, Hester Bekker, vertel dat Simone ‘n jong dame is met ‘n groot omgeehart, veral vir kinders. “Simone is tans besig met hierdie wonderlike projek vir minderbevoorregte kinders.

Die publiek se hulp en ondersteuning vir haar projek sal opreg waardeer word.” Enige persoon wat iets wil bydra tot die projek, kan Griessel kontak by 083-310- 7886.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za