Boeke leer jonges om emosies te hanteer

0
1441
Die avonture van Skapie-Mê wat onlangs in boekvorm uitgereik is.

Kinders, en selfs ouer mense, laat hulself dikwels nie toe om hul emosies te identifiseer en daaroor te praat nie. Maar ‘n nuwe boekereeks wat handel oor die avonture van ‘n karakter genaamd Skapie-Mê, leer ons dat dit goed is om aandag aan ons emosies te gee.

Dié drie boeke uit Perle du Plessis se pen het tydens die inperking in Maart 2020 die lig gesien. “Ek het die eerste drie stories onmiddellik voluit neergeskryf en vir my man en kinders gelees. Dis maar moeilik as jy jou ma se proefkonyn moet wees!” het Du Plessis gesê.

Dit het haar egter amper ‘n jaar geneem om uit te vind hoe om die stories geïllustreer te kry. “Daar was baie engele wat my met raad en daad bygestaan het, waaroor ek ewig dankbaar is.”

Die eerste twee stories, Skapie-Mê verbreek die reëls/Selbi-Sheep breaks the rules en Die stem in my kop/The voice inside, is in Maart 2021 in Afrikaans en Engels gepubliseer en die derde storie, Die nuwe bure/The new neighbours, het in November 2021 verskyn.

Die stories gaan oor die avonture van Skapie-Mê en sy maats Maatjie-Mê en Nefie-Mê. Deur hul avonture leer hulle belangrike lewenslesse en hoe om oor hul emosies te praat.

Du Plessis wil graag vir kinders en ouers ‘n platform bied waar hulle oor hul emosies kan gesels. “Om te leer om jou eie emosies te verstaan en uit te druk is van onskatbare waarde.”

Indien jy alreeds al drie die boeke gelees het, kan jy uitsien na nog ‘n avontuur van Skapie-Mê, waaraan Du Plessis tans werk. Daar word ook ‘n nuwe reeks oor Dinki die Donkie beplan.

As jy een van die boeke wil aanskaf, bestel via WhatsApp op 083 447 8027 of koop hulle by Pikkies Boetiek in Fichardtpark, of by I2We Therapy Centre in Gardenia Park.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za