Boeing 737 op pad na Bfn vir enig-in-sy-soort kuierplek

0
800

LANI FOUCHÉ

Bloemfonteiners wat Woensdagmiddag in die strate gaan rondrits kan ‘n groot verrassing op die pad teëkom. ‘n Boeing 737 baan sy weg vanaf Lanseria Internasionale Lughawe in Johannesburg na Emoya Estate waar dit as ‘n unieke kroeg en kuierplek ingerig sal word.

Die landgoed se eienaar, Buks Westraad, sê die plan is dat "Lounge 737" teen September geopen sal word, waar die gewilde sangeres Karen Zoid met haar toepaslike Aeroplane Jane-liedjie die luukse Hollywood-styl kuierplek sal open.

Die vliegtuig het lank in onbruik gestaan, en Emoya het dit vir net oor die R700 000 aangekoop. "Dit kos meer as R400 000 om dit Bloemfontein toe te bring, want dit kom in stukke," het Westraad gesê. Die romp sal eerste in die Rosestad aankom, gevolg deur die vlerke, stert, wiele en enjin. Dié sal Donderdag by Emoya aankom.

"Dit gaan ‘n groot trots vir Bloemfontein wees om so ‘n unieke kuierplek te hê." Volgens Westraad sal dié vliegtuig-kuierplek ‘n eerste vir Bloemfontein en Suid-Afrika wees.

Die Boeing sal omstreeks 16:00 Woensdagmiddag met ‘n abnormale vrag deur Bloemfontein se strate ry, wat verkeer kan beïnvloed. Morotiste is gevra om geduldig te wees.