Bobbejaan maak glo amok op Bainsvlei

0
966
‘n Mannetjiesbobbejaan soos hierdie een het die inwoners van Bainsvlei op hol nadat dit glo ‘n perd en ‘n donkie in die omgewing gebyt het. Foto ter illustrasie. FOTO: WIKIPEDIA

Inwoners van Bainsvlei, Bloemfontein leef in vrees nadat ‘n bobbejaan na bewering sedert verlede week amok in die omgewing gemaak het en ‘n perd ernstig beseer is.

Een van die inwoners, Hayley de Beer, het aan Bloemfontein Courant vertel hoe haar perd op Woensdag 13 Maart aangeval is en hulle dadelik die veearts moes kry om die dier te behandel.

Sy het eers gedink dat dit ‘n hond was, maar toe haar man by die bure verneem of dit moontlik hul honde kon wees, het die buurvrou vertel dat hul donkie so erg deur ‘n bobbejaan aangeval is dat hulle die dier moes laat uitsit het. Sy en haar man het bevestig dat die wonde op die perd presies dieselfde was as dié aan die donkie.

Die buurman het die Departement van Natuurbewaring geskakel, maar is meegedeel dat hulle nie kon help nie en dat hy ‘n boete van R50 000 opgelê kon word indien hy die bobbejaan skiet.

Inwoners van die kleinhoewes sê hulle het die bobbejaan gereeld gesien en kon presies verduidelik waar hy hom tuisgemaak het. Inwoners vermoed die bobbejaan kom van die heuwels en koppies in die omgewing.

Die buurman beskryf die bobbejaan as ‘n baie groot mannetjiesbobbejaan wat maklik die grootte van ‘n jong seun kan wees. Inwe

De Beer het met die Departement van Omgewingsake geskakel. Volgens dié department bestaan daar nie soiets soos ‘n boete van R50 000 nie. Hulle was ook baie hulpvaardig en het onmiddellik uitgekom na die toneel.

Hulle het ‘n rooikathok by haar afgelaai om ‘n lokval vir die bobbejaan te stel. Tot dusver was dit nie suksesvol nie. Bobbejane “jag” gewoonlik in die dag. Dit is ongelukkig die tyd wanneer die meeste mense nie tuis is nie, wat dit moeilik maak vir mense om die bobbejaan te vang.

De Beer het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle tans die perde 24 uur oppas en dat hulle ook by die beseerde perd slaap.

Bloemfontein Courant het probeer om die Department van Natuurbewaring se mening in te win, maar kon nie daarin slaag nie.  – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za